Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Energie en Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa het teen-kernaktiviste gekritiseer omdat hulle onwetenskaplike en emosionele boodskappe gebruik om ‘n negatiewe sentiment teenoor kernkrag in Suid-Afrika te skep.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf byna 20 jaar nadat die sakeman van Uruguay, Gaston Savoi skuldig bevind is aan bedrog, het die tyd aangebreek dat die ANC-kaders wat deel was van die bedrogspul deur die NVG aan die kaak gestel word.
En tweedens berig die koerant die MK-party is soos ‘n Pacman wat al die kleiner partytjies verslind.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die DA sal nie die regering van nasionale eenheid verlaat al teken president Cyril Ramaphosa die omstrede Bela-wetsontwerp nie. Die party sal wel die wetgewing se grondwetlikheid in die Konstitusionele Hof betwis.
Tweedens skryf die koerant oor Naas Botha se besoek aan die voormalige Springbok-afrigter doktor John Williams in die hospitaal. Williams voer ’n stryd teen leukemie en is in die Life Groenkloof-hospitaal in Pretoria.
En laastens is daar nuus oor die legendariese sanger Jon Bon Jovie wat ‘n vrou van ‘n brug af gered het in Nashville.
# The Star & Pretoria News:
Bespiegel oor wie die leiding in die Premier Sokkerliga gaan neem.
En berig oor die hulde aan die kwaito-ster Mapaputsi wat verlede week oorlede is ná ‘n lang siekbed.
# Sowetan:
Berig nie-regeringsorganisasies sê die feit dat vier-miljard-rand se maatskaplike verligtingstoelaes nie die armes bereik het nie is skokkend. Dit word toegeskryf aan nuwe reëls wat toegepas is.
# En The Citizen:
Skryf die federale voorsitter van die DA, Helen Zille sê hoewel die Bela-wet druk plaas op die regering van nasionale eenheid sal dit nie die einde daarvan beteken nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met die DA en VF+ se voorneme om deel te bly van die regering van nasionale eenheid.
En tweedens word berig oor die Cheetahs se verbete voorry wat môre in die Curriebeker-halfeindstryd teen die Leeus te staan kom.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
En tweedens berig die koerant duisende houers met pille spoel op die strande van Gqeberha uit. Die pille Diclofenac 75mg vir pyn en inflamasie en Glipizide vir diabetes is gevaarlik en vermoedeilik afkomstig uit vraghouers wat van skepe afgeval het tydens die Kaapse stormweer.
# En Cape Times:
Skryf daar is ‘n beroep op die Stad Kaapstad gedoen om sy huis in orde te kry nadat die voormalige burgermeesterskomiteelid, Malusi Booi in die hof verskyn het vir 850-miljoen-rand se beweerde tenderbedrog.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ná die afhandeling van die openbare deelnameproses sal Ramaphosa vandag die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette onderteken.
En tweedens skryf die koerant slegs sowat 43,66-persent van mense wat van moord aangekla word, word in die Oos-Kaap gevonnis.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, het ‘n beroep op die polisie gedoen om die massamoord op ‘n gesin in Hlokozi deeglik te ondersoek. Sewe familielede is in hul huis doodgeskiet.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig werknemers van druiweplase by Aussenkehr langs die Oranjerivier is letterlik in sak en as nadat ’n brand 72 riethuise verswelg het.
En tweedens skryf die koerant hoewel daar steeds sterk steun vir demokratiese prosesse is, begin al hoe meer Namibiërs se vertroue in verkiesings in die algemeen afneem.