Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die bestuurshoof van Business Unity SA, Cas Coovadia sê Suid-Afrika se ekonomiese groeistrategie moet heroorweeg word, want dit kan die land in staat stel om ‘n hoë-inkomste-ekonomie te word.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die krisis by welsynorganisasies in Gauteng en die probleme by die provinsie se Departement van Maatskaplike Ontwikkeling. Die organisasies ontvang nie fondse betyds om te kan oorleef nie.
En tweedens berig die koerant oor die Bok-afrigter, Rassie Erasmus se noue ontkoming toe hy Saterdag voor die Springbokke se kragmeting die vroue-toilet moes gebruik.
# Sowetan:
Berig ‘n nuwe probleem het aan die lig gekom met die uitbetaling van die tweepot-pensioenstelsel. Talle aansoekers kla oor werkgewers wat nie hul bydraes aan pensioenfondse oorbetaal het nie.
# En The Citizen:
Skryf 224-miljoen-rand wat vir die armes in Gauteng bedoel was, het ses jaar gelede vermis geraak en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling swyg steeds daaroor.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor nege voertuie wat by die Bethlehem-lugskou in ‘n brand vernietig is. Die koerant skryf die brand in die parkeerterrein is vermoedelik deur ‘n braaivleisvuur veroorsaak.
Tweedens word berig die 10-jarige Neil Shaw van die Laerskool Willem Postma in Bloemfontein is dood nadat sy hart die naweek twee keer gaan staan het.
En laastens skryf die koerant oor Saterdag se Bok-sege.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die Bokke se oorwinning oor die All Blacks in Kaapstad die naweek.
Dan word berig ‘n gerespekteerde buurtwaglid van Elsiesrivier, die 49-jarige Clinton Treu is tydens ‘n mislukte kaping en rooftog doodgeskiet.
En ten slotte skryf die koerant die eggenoot van een van die slagoffers van die vloot se duikbootongeluk in Kommetjie is nie tevrede met die verslag wat uitgereik is nie. Romero Hector sê hy gaan die saak in die hof verder voer.
# En Cape Times:
Skryf Prasa het opdrag ontvang om die woonstrukture wat hy in Kaapstad afgebreek het te herbou.
En berig die Springbokke het Kapenaars bedank vir die wonderlike ondersteuning wat hulle ontvang het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Nelson Mandelabaai se burgemeester, Gary van Niekerk het belowe om die stad voor Kersfees die veiligste metro in Suid-Afrika te maak.
En dan skryf die koerant Van Niekerk het intussen na bewering van die ANC opdrag gekry het om te bedank, wat die weg baan vir sy adjunk, Babalwa Lobishe.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die DA het ‘n versoek van die ANC om saam die regering van die provinsie oor te neem van die hand gewys.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ná ’n skorsing, afdanking en ’n lang uitgerekte hofstryd is die voormalige uitvoerende hoof van die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente, Hilya Nghiwete haar pos finaal kwyt.
En tweedens skryf die koerant ’n vermeende gewoontestroper is verlede week dood nadat hy deur ’n vragmotorbestuurder wat hy na bewering probeer beroof het, geskiet is.