Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Augustus 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die DA het ‘n privaatlidwetsontwerp ter tafel gelê wat grondwetlike wysigings voorstel om te verhoed dat individue wat weens wangedrag uit sleutelstaatsinstellings verwyder is, weer tot openbare ampte verkies kan word. Dit sluit in afgedankte regters en voormalige hoofde van Hoofstuk 9-instellings.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Cyril Ramaphosa se plan om nog partye by die regering van nasionale eenheid te betrek, sal in oorleg met die DA gedoen moet word aangesien dit in die party se verklaring van voorneme vervat word.
Tweedens skryf die webblad die polisie se optrede teen ‘n groep vermeende rowers in Johannesburg was moontlik suksesvol as gevolg van die rowers se blinde vertroue in moetie. Die polisie het vier verdagtes doodgeskiet wat na bewering op pad was om ‘n sakeman te beroof.
En laastens word berig die regering kon nog geen bewyse vind van sogenaamde Basotho-opleidingskampe op Suid-Afrikaanse plase nie. Die kampe sou volgens koerantberigte mense oplei om grond in die land te beset.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf terwyl die ANC talle uitdagings in die gesig staar, het die ANC-veteraan en lid van die Nasionale Uitvoerende Komitee, Nkosazana Dlamini-Zuma die noodsaaklikheid beklemtoon dat die party sy organisatoriese strukture op die grond moet herbou.
En tweedens word berig die geskorste adjunkpresident van die Patriotic Alliance, Kenny Kunene, sê hy sal sy stryd na die Appèlhof neem nadat die Gautengse Hooggeregshof beslis het dat sy beskrywing van EFF-leier Julius Malema as ‘n “kakkerlak” neerkom op haatspraak.
# Sowetan:
Berig die Suid-Afrikaanse Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het die regering van Eswatini gekonfronteer oor gevaarlike misdadigers van die VSA wat na die land gedeporteer word. Suid-Afrika soek die versekering dat die misdadigers nie oor die grens sal kom nie.
# En The Citizen:
Skryf daar is volgens kenners bewyse dat die polisie sekere misdade oor die hoof sien as ANC-kaders daarby betrokke is. Die koerant berig die probleem sal slegs opgelos kan word met strukturele veranderinge in die diens.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die 19-jarige Matiestudent, Chris Scheffers wie se liggaam die naweek in sy koshuiskamer in Dagbreek gevind is, het nie selfdood gepleeg nie. Daar is vasgestel hy is aan breinvliesontsteking oorlede.
En tweedens skryf die koerant die ongereguleerde bedryf van Shein en Temu in Suid-Afrika die afgelope vyf jaar het die klerebedryf agt-duisend poste en inkomste van een-miljard-rand gekos.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig daar word pogings aangewend om die Mercedes-aanleg in Oos-Londen te red deur ‘n reddingsboei.
En skryf die brandweerhoof het in die geregtelike ondersoek na die Enyobeni-taverneramp getuig die eienaars het nooit vir vrystellingsertifikate aansoek gedoen nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar is beslag gelê op vals produkte ter waarde van 30-miljoen-rand.
En berig sewe mense het omgekom in ‘n taxi-ongeluk in KwaMpumza. Die taxi het die pad byster geraak en in ‘n skoolgebou vasgejaag.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig verskeie van Enercon se personeel het na bewering sedert Junie verlede jaar nie hul salarisse ontvang nie.
Dan skryf die koerant sommige plaaslike rade soos Keetmanshoop, Otjiwarongo en Rehoboth, het reeds begin om hul ooreenkomste met RedForce-skuldinvordering te hersien. Katima Mulilo skop egter vas.
En laastens word berig Namibiërs moet maar weer hul winterjasse aantrek, want dit sneeu in die Suide.