Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Polisie, Senzo Mchunu het in die Parlement deurgeloop toe LP’s hom daarvan beskuldig het dat daar geen beleid bestaan om teen afpersingsindikate op te tree nie. Lede sê afpersing het elke vlak van die samelewing binnegedring.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor die vordering van ministers wat in die regering van nasionale eenheid aangestel is. Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald wil die paroolstelsel hersien en die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber wil digitalisering en hervormings bespoedig.
Dan skryf die koerant oor die enigste oorlewende van die Durbanse gesin wat Saterdag in ’n motorongeluk betrokke was, die 12-jarige Harry Finnemore. Hy is kritiek maar stabiel. Hy het sy ouers en ouer broer in die ongeluk verloor.
En laastens word berig die meteoriet wat onlangs ’n opskudding aan die Oos-Kaapse kus veroorsaak het, was vermoedelik die grootte van ’n klein motortjie toe dit die atmosfeer binnegekom het, maar slegs brokstukkies daarvan is tans in die besit van wetenskaplikes.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die provinsiale sekretaris van die ANC in KwaZulu-Natal, Bheki Mtolo het die vakbond Nehawu verskoning gevra nadat hy hulle beskuldig het van swak dienslewering in die openbare sektor.
En tweedens berig die koerant ook oor Mchunu se misdaadvoorkomingsplanne.
# Sowetan:
Berig ook oor die afpersingsindikaatkwessie. Mchunu sê die polisie is oorgehaal om teen die sindikate op te tree. Hy sê die sindikate teiken tans ook pensioenarisse en padongelukslagoffers.
# En The Citizen:
Skryf die Hooggeregshof in Johannesburg het die Johannesburgse stadsraad gekeer om die inwoners van ‘n ouetehuis uit te sit nadat omstandighede by die instelling agteruit gegaan het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die liggame van Lesedi Pepheng en Rethabile Motloung, beide sewe jaar oud, is in ‘n ou yskas by Lesedi se ouma se huis in Springfontein gevind. Die kinders het blykbaar as deel van ‘n speletjie in die yskas geklim.
En tweedens skryf die koerant die ma van die 28-jarige Sebastiaan Nimmerhoudt wat in die Vanrhynspas-busongeluk betrokke was, sê sy weet nie of haar kind lewe of dood is nie. Tien mense het in die ongeluk omgekom en 39 is beseer.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die drie kandidate vir die rektor van die Universiteit Stellenbosch is professors Stan du Plessis, Deresh Ramjugernath en Reitumetse Mabokela. Die raad sal die finale besluit neem.
En tweedens skryf die koerant die polisie stel ondersoek in nadat ‘n 39-jarige duiker wat opleiding ondergaan het in ‘n gruisgat by Somerset-Wes verdrink het.
# En Cape Times:
Skryf ook oor Mchunu se voorligting in die Parlement.
En berig die Suid-Afrikaanse Poskantoor se toekoms is beperk.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die president van die motorbedryfsorganisasie NAAMSA, Billy Tom, sê misdaad, beurtkrag en logistieke agterstande het die bedryf aansienlik geraak.
En tweedens word berig die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Gary van Niekerk is vooraf ingelig oor die verbrokkelende elektrisiteitsnetwerk wat tydens die afgelope storm ineengestort het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Lei met: “NO TEARS FOR GANG GUNNED DOWN IN SHOOTOUT”. Dit volg nadat die polisie ‘n bende van ses vermeende moordenaars doodgeskiet het tydens ‘n klopjag in Durban se Suidstrand.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Diens het die groen lig gekry om regstreeks mediese voorrade ter waarde van 1,7-miljard-rand aan te skaf.
En tweedens skryf die koerant die toerismebedryf is omgekrap nadat ‘n privaat maatskappy wat ’n kontrak van 25 jaar ontvang het om toeriste eksklusief na Sossusvlei te vervoer ’n valhek opgerig het.