Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Konstitusionele Hof sal Vodacom SA se aansoek om verlof tot appèl aanhoor in die voortslepende Please Call Me-saak. Die regsdispuut waarin ‘n voormalige werknemer, Nkosana Makate miljarde rand eis duur reeds 16 jaar.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig Namibië is van plan om 723 wilde diere waaronder 83 olifante en 30 seekoeie te skiet om die hongersnood in die land te bekamp. Die land se ministerie van Omgewingsake, Bosbou en Toerisme sê die projek vorm deel van natuurbewaring.
Dan skryf die koerant die 17-jarige verdagte in die moord op die 16-jarige Deveney Nel van Caledon is na ‘n ander plek van aanhouding verskuif uit vrees vir sy lewe.
En laastens is daar ‘n brokkie oor ‘n rower wat tyens ‘n jaagtog in Centurion deur veiligheidswagte doodgeskiet is.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die maatskappy wat aangestel is om Lilian Ngoyi-straat (Breestraat) in Johannesburg ná die gasontploffing te herstel, se kontrak is beëindig omdat die taak nie voltooi is nie.
En tweedens het die koerant met die oorlewende van ‘n aanval op ‘n plaas in Limpopo gepraat. Twee vrouens is tydens die voorval doodgeskiet.
# Sowetan:
Berig ‘n man van Mpumalanga, Mlungisi Maseko het ‘n uitbetaling van 1,3-miljoen-rand van die Padongelukfonds gebruik om watervoorsiening aan sy gemeenskap te verbeter.
# En The Citizen:
Skryf die nuwe ANC-burgemeester van Johannesburg, Dada Morero word deur sy eie party aangeval omdat hy volgens ontleders die vrye besteding van stadsfondse aan bande lê.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die Griekwastad-moordenaar wat weens sy ouderdom toe die misdaad gepleeg is nie geïdentifiseer mag word nie, het voor die paroolraad verskyn. Hy is gevonnis vir die moorde op sy aanneemouers en suster in 2012 en is nou 28 jaar oud.
Dan skryf die koerant die minister van Polisie, Senzo Mchunu sê die moontlikheid van polisiebetrokkenheid word ondersoek in die ontvoering van pastoor Philip Mashudu en sy vrou Elsie van Bethlehem. Die egpaar is in Gauteng deur die polisie ontset en vier mans is in hegtenis geneem.
En laastens is daar nuus oor die ystervark en die muishond wat steeds kom kuier by ‘n huis in Bloemfontein. Die dassie wat deel was van die groep, het egter verdwyn.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oproepe dat die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane moet bedank, neem steeds toe. Sy word betrek by ‘n beweerde lening van die VBS-bank.
En tweedens skryf die koerant ook oor die veiligheid van die verdagte in die Nel-moordsaak.
# En Cape Times:
Skryf oor skade en ontwrigting in die Kaap van Storms.
En berig die polisie stel ondersoek in nadat ‘n man glo tydens ‘n uitstetting met ‘n mes gesteek is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die inwoners van Nelson Mandelabaai waar minstens 40 mense die afgelope twee weke vermoor is, het ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om ‘n noodtoestand af te kondig en ‘n aandklokreël in te stel.
En tweedens skryf die koerant dis nie net sakeondernemings wat onder die kragonderbreking in Gqeberha ly nie. Die Nelson Mandela Universiteit moes ook van sy klasse opskort.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf daar is ‘n grootskaalse polisie-optrede teen gekaapte geboue in eThekwini van stapel gestuur.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n interdik is uitgereik teen beplande mynbedrywighede en die bou van ’n pad in ’n toerisme-konsessiegebied in die Khorixas-distrik.
Dan skryf die koerant ’n vermeende wilddief is die afgelope naweek in hegtenis geneem nadat hy glo met meer as 180 wildvelle betrap is.
En laastens is daar nuus oor die Step Up Ark-stigting van Martha McNab wat geslagsgeweldslagoffers bystaan.