Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Augustus 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die regering het gister sekere vrystellings bekendgemaak om uitvoerders tegemoet te kom in die lig van die 30-persent-tarief wat die week in werking tree. Ingevolge die vrystellings sal mededingende uitvoerders toegelaat word om infrastruktuur, logistiek en markintelligensie te koördineer sonder vrees vir kartelvervolging.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die opspraakwekkende varkhokmoord in Limpopo. Die webblad berig een van die drie beskuldigdes wat gister in die hof verskyn het, het aangedui hy wil vir die staat getuig.
Dan skryf die blad president Cyril Ramaphosa het by die ANC se NUK-vergadering gesê die 30-persent-tarief van die VSA is rampspoedig en bestraffend.
En laastens word berig twee verdagtes verskyn vandag in die hof nadat hulle na bewering Sondag ‘n bejaarde egpaar op ‘n plaas buite Smithfield in die Vrystaat aangeval en beroof het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ‘n fluitjieblaser beweer die raad van PRASA was ten volle ingelig oor die bedrog en korrupsie in die staatsonderneming. Die fluitjieblaser beweer die raad was aandadig maar het die uitvoerende hoof en finansiële hoof onder die bus gegooi om die skuld te dra.
En tweedens berig die koerant oor kwotas wat lede van die Johannesburgse metropolisie moet nakom om die stad se begroting aan te vul.
# Sowetan:
Berig die busbestuurders van die Johannesburgse Rea Vaya het begin staak nadat dit aan die lig gekom het van die busse is onpadwaardig, nie gelisensieer nie en voldoen nie aan veiligheidsvereistes nie.
# En The Citizen:
Skryf soos The Star ook oor Johannesburg se kwotas. Die koerant berig die DA het onthul die Johannesburgse Metro het ‘n teiken gestel vir metropolisiebeamptes om sewe-duisend-rand per dag se boetes uit te reik.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor ‘n motorongeluk in Brackenfell Saterdagaand wat die lewens van vier jongmense geëis en nog twee ernstig beseer het. Die voertuig het glo in ‘n boom vasgejaag waarna dit in vlamme uitgebars het. Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
En tweedens skryf die koerant soos Netwerk24 ook oor Ramaphosa se toespraak by die ANC-NUK.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig kenners waarsku die Buffalo City-metro is op die rand van ineenstorting.
En skryf foutiewe toerusting het die geregtelike ondersoek na die Enyobeni-taverneramp in die wiele gery.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar is gemengde reaksie oor die nuwe munisipale bestuurder van die Msunduzi-munisipaliteit, Felani Mndebele.
En berig tweedens die modereus Shein is deur die Italiaanse mededingingsowerheid met meer as 20-miljoen-rand beboet vir vals inligting oor sy groen-status op sy webblad.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig meer as tweederdes van graad 3-leerlinge in Namibië kan nie ’n eenvoudige sin lees of basiese wiskunde doen nie.
Dan skryf die koerant Namcor se kansellering van ‘n vereiste vir ‘n kredietwaarborg baan die weg vir Enercon om brandstof ter waarde van miljoene te ontvang.
En laastens sê die adjunkminister van Myne en Energie, Kornelia Shilunga, sy het in ‘n sinkhuis groot geword en dit het haar nie terug gehou nie.