Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die Tweede Presidensiële Gesondheidsberaad wat môre sou plaasvind, is uitgestel omdat daar nie eenstemmigheid bereik kan word oor Nasionale Gesondheidsversekering nie. Die Tweede Presidensiële Gesondheidsverdrag sal nou eers op 22 Augustus oorweeg word.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig Corruption Watch sê daar is ’n duidelike gebrek aan samewerking tussen kernrolspelers om staatskapers te vervolg. Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling Thembi Nkadimeng het egter ten sterkste ontken dat haar departement die werk van die Nasionale Vervolgingsgesag se Ondersoekdirektoraat belemmer.
En tweedens skryf die koerant die Australiese stad Perth moet hom die naweek staal vir ’n Suid-Afrikaanse storm. Die Bokke pak die Wallabies, Dricus du Plessis verdedig sy titel as wêreldkampioen en ‘n groep Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan optree.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die VBS-beskuldigdes wil afsonderlike verhore hê.
En berig verskeie spaza-winkels in Soweto is gesluit nadat inwoners wat keelvol is vir buitelanders die reg in eie hande geneem het.
# Sowetan:
Berig oor die sowat 400 leerders van Mpumalanga wat tydens die matriekeksamen gekul het. Die hof het bevind hoewel die leerders skuldig is, was die Onderwysdepartement se tugproses nie korrek nie en moet die leerders nou hul uitslae ontvang.
# En The Citizen:
Skryf politieke ontleders sê Jacob Zuma se MK-party is besig om sy glans te verloor en dit lyk of dit eintlik ‘n familie-sakeonderneming was.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die 43-jarige Thomas Nel is in die Hooggeregshof in Bloemfontein onskuldig bevind aan die moord op sy vrou Jackie meer as ses jaar gelede.
En tweedens skryf die koerant die premier van die Vrystaat, Maqueen Letsoha-Mathae het 106 huise aan die gemeenskap van Jagersfontein oorhandig. Die huise is deur Jagersfontein Developments gebou nadat die myndamwal in die dorp gebreek het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die ondersoek na die moord op die 16-jarige Deveney Nel van Caledon is volgens bronne in ‘n baie sensitiewe stadium. Haar liggaam is met steekwonde op die skoolterrein gevind en daar word vermoed dat die moordenaar dalk nie ‘n volwassene of man is nie.
Dan skryf die koerant produkte van die aanlyn maatskappye Shein, Temu en All Express bevat moontlik gifstowwe wat nie in die Europese Unie of Suid-Korea aanvaarbaar is nie.
Die koerant het ook nuus oor die Suid-Afrikaners in Perth die naweek.
En laastens word berig dit het aan die lig gekom ‘n liefdadigheidsorganisasie in Nieu-Seeland het onwetend lekkergoed met tik daarin aan kinders uitgedeel.
# En Cape Times:
Skryf die Wêreldgesondheidsorganisasie het a-pokke tot openbare gesondheidsnoodtoestand van internasionale kommer verklaar.
En berig ook oor die afsonderlike verhore vir die VBS-beskuldigdes.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig stormsterk winde wat Nelson Mandelabaai die afgelope 24 uur getref het, het bome ontwortel, waterpype en kraglyne afgeruk en ten minste een huis se dak afgewaai.
En skryf tweedens onderswysers van die Bonzai-skool in Sydenham oorweeg nou enige moontlike stappe om die leerders se gedrag onder beheer te bring.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die regering van provinsiale eenheid in KwaZulu-Natal stel ondersoek in na die faktore wat gelei het tot die ineenstorting van dienslewering in die provinsie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig hoewel die voormalige werknemers van die gelikwideerde Air Namibia reeds in Desember 2022 hul vergoedingspakkette ontvang het, het die hof bevind dat dié bedrag te min was.
En tweedens skryf die koerant die onderwyser van Ongwediva wat onlangs afgedank is, het glo sowat 14 lyfstrafsake teen hom.