Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika se ekonomie skep nie vinnig genoeg werk om al die mense wat die arbeidsmark betree, te absorbeer nie. Dit het daartoe gelei dat die aantal werksoekers wat nie werk kry nie, tot ‘n nuwe hoogtepunt van byna 8,4-miljoen mense gestyg het.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die burgemeester van Johannesburg, Kabelo Gwamanda het op versoek van president Cyril Ramaphosa bedank. Die president van Al Jama-ah, Ganief Hendricks sê hy sal nou as burgemeesterskomiteelid ontplooi word.
En tweedens skryf die koerant oor die helde-ontvangs van Tatjana Smith by die OR Tambo Internasionale Lughawe. Sy is met bosse blomme oorweldig. Die 18-jarige atleet, Bayanda Walaza het ook onder ‘n groot gejuig tuisgekom.
# The Star en Pretoria News:
Skryf Kabelo Gwamanda se vertrek sal die weg baan vir die ANC se streeksvoorsitter, Dada Morero wat nou moontlik as burgemeester van Johannesburg verkies sal word.
En tweedens word berig vroue is die grootste slagoffers van werkloosheid in die land.
# Sowetan:
Berig Johannesburg gaan Vrydag sy negende burgemeester kry sedert die begin van koalisiepolitiek in 2016. Die koerant skryf inwoners dring aan op verbeterde diens ná die Gwamanda-mislukkings.
# En The Citizen:
Skryf die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie sê hy wil die Olimpiese span wat die Spele in Los Angeles bywoon, verdubbel.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ‘n aansoek om die moordsaak teen Thomas Nel terug te trek is gister van die hand gewys. Hy staan tereg vir die moord op sy vrou Jackie.
En tweedens skryf die koerant ook oor die atlete se aankoms op OR Tambo.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig Gayton McKenzie sê daar is nie nou genoeg geld beskikbaar om apartheidstandbeelde uit openbare ruimtes te verwyder nie.
Tweedens skryf die koerant ‘n taxibestuurder van Kaapstad is deur sy baas aan die polisie oorhandig nadat hy na bewering verkeersbeamptes aangerand het.
En laastens is daar nuus oor ‘n pou wat ‘n boomslang op ‘n plaas in die Robertson-gebied wou vang. Nie een van die twee het oorleef nie.
# En Cape Times:
Skryf werkloosheid in Suid-Afrika het sy hoogste vlak in twee jaar bereik.
En berig die polisie se Wes-Kaapse hoof van misdaadintelligensie, Mzwandile Tiyo is afgedank. Hy het glo staatshulpmiddels vir persoonlike doeleindes aangewend.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die die Laerskool Dietrich in Gqeberha het besluit om inklusiwiteit te bevorder deur Islamitiese drag by sy skooldragbeleid in te sluit.
En tweedens skryf die koerant motoriste in Gqeberha is omgekrap oor die verlenging van 17de Laan in Walmer Downs, wat 10 maande langer voortsleep as wat geskeduleer is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf hoewel misdaadvlakke in KwaZulu-Natal steeds styg, is die veiligheidsbegroting met 10-miljoen-rand gesny.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig president Nangolo Mbumba wag maande ná die sperdatum steeds vir ‘n verslag van die kommissie vir die afbakening van grense.
En skryf nie een van die 20 partye wat aan die verkiesing in November deelneem, het al hul manifes vrygestel nie.