Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Minerale- en Petroleumbronne, Gwede Mantashe wil privaat beleggers betrek om die Sapref-raffinadery in Durban te ontwikkel om Suid-Afrika se raffineringsvermoë te vergroot.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig belastingbetalers gaan vir die tweede keer in minder as ses maande die sak moet skud vir parlementêre swier – dié keer tussen ses- en 14-miljoen-rand. Die parlementsopening vind vanaand in die Kaapstadse stadsaal plaas.
En tweedens skryf die koerant die oorskot van majoor Tolla Pieterse het vanaf die Demokratiese Republiek die Kongo op die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria aangekom.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oudpresident Jacob Zuma wil hê sy ANC-tugberhoor moet in die openbaar gehou word.
En berig die ondersoek na die plundering van VBS-bank stel ANC-kaders teen mekaar.
# Sowetan:
Berig die veroordeelde moordenaar, Sandile Mantsoe, wat tans ‘n vonnis van 36 jaar uitdien vir die moord op sy vriendin, Karabo Mokoena is skuldig bevind aan bedrog en ‘n verdere 15 jaar is by sy vonnis gevoeg.
# En The Citizen:
Skryf Suid-Afrikaners moet vandag op Nelson Mandela Internasionale Dag vra wat Madiba sou dink van Suid-Afrika.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig 110 nuwe huise is opgerig en oorhandig aan die slagoffers van die slikdam-ramp in Jagersfontein in 2022.
En tweedens skryf die koerant die sesjarige Erik Potgieter van Bloemfontein is baie spyt sy held, Pieter-Steph du Toit draf nie Saterdag vir die Springbokke teen Portugal op nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die parlementsopening. Die koerant skryf daar is streng reëls in plek om die ontwrigting van die opening te verhoed.
En tweedens is daar nuus oor ‘n huisopknappingsnutsman van Mosselbaai, Andru Burger en sy handlanger, Jacobus Esterhuysen wat in die hof verskyn het op aanklagte van huisbraak en diefstal.
# En Cape Times:
Skryf oudregter Nkola Motata, wat in 2007 vir dronkbestuur gearresteer is, het stukke by die Konstitusionele Hof ingedien om sy staat van beskuldiging wat hom in Februarie sy aanstelling gekos het, te betwis.
En berig die Appèlhof het beslis hommeltuig-hengel is ontoelaatbaar.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die reeds sukkelende klein sakeondernemings wat voorafbetaalde elektrisiteitsmeters gebruik, moet nou as deel van Nelson Mandelabaai se tariefstruktuur ‘n bykomende maandelikse heffing van 334-rand-en-12-sent betaal.
En tweedens skryf die koerant die liggaam van nog ‘n duiker wat in Nelson Mandelabaai uitgespoel het, het daartoe gelei dat amptenare hul ondersoek na onwettige perlemoenhandel verbreed.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf oor die ses brandbestryders wat dood is in die KwaZulu-Natalse middellande. Volgens kenners word brandbestryders nie behoorlik opgelei nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig inwoners van Windhoek het ’n vreedsame betoging gehou teen die stad se bestuur van dienste en rekeningpraktyke.
Dan skryf die koerant nadat chaos tydens ’n dorpsraadsvergadering uitgebreek het, het vier raadslede uitgestorm. Die munisipaliteit van Walvisbaai se regsverteenwoordigers het nou ook onttrek.
En laastens is daar nuus oor Nelson Mandela Internasionale Dag, wat vandag herdenk word.