Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die munisipale werkersunie, Samwu begin vandag met ‘n eerste ronde van loongesprekke by die Bedingingsraad vir Plaaslike Regering. Hulle eis ‘n loonverhoging gelykstaande aan byna drie keer die inflasiekoers.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oudpresident Donald Trump sal volgens Solidariteit se hoof van internasionale skakeling, Jaco Kleynhans wen sou die Amerikaanse presidentsverkiesing vandag gehou word. Hy sê Trump se verkiesingsveldtog het ‘n hupstoot gekry met die mislukte sluipmoordaanval. Voorts skryf die koerant die Amerikaanse Geheimediens sal talle moeilike vrae moet beantwoord oor die beveiliging van Trump.
En tweedens skryf die koerant Sacha Feinberg-Mngomezulu het Saterdag in die Springbok-toets teen Ierland bewys hy lyk soos ’n toekomstige superster.
# The Star en Pretoria News:
Skryf daar bestaan vrese dat daar geweld kan uitbreek in die VSA ná die aanval op Trump.
En berig die MK-party beplan om op te ruk teen Helen Zille van die DA.
# En Sowetan:
Berig die voormalige finansiële hoof van VBS-bank, Phillip Truter is ná drie jaar op parool vrygelaat. Hy was die eerste van die bank se personeellede wat met die plundery van die finansiële instelling vorendag gekom het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei soos Beeld ook met Trump.
En tweedens word berig al die kaartjies vir Saterdag se Springbok-toets teen Portugal in Bloemfontein is reeds uitverkoop.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
En tweedens berig die koerant oor die stormskade in die Wes-Kaap. Die provinsie is nou amptelik tot rampgebied verklaar en meer as 150-duisend mense is dakloos gelaat.
# En Cape Times:
Skryf ook die sluipmoordaanval op Trump kan sy kanse om as president verkies word moontlik verbeter.
En berig tweedens die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente verleen meer mag aan universiteite om die uitbetaling van studentetoelaes te hanteer.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n dokter is gekaap in die parkeerterrein van die Dora Nginza-hospitaal. Dis net nog ‘n voorval waar mediese personeel in gevaar verkeer en daar is ‘n dringende beroep gedoen vir beter sekuriteit.
En tweedens skryf die koerant die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het na bewering die afgelope twee jaar 381-duisend-rand betaal vir die huisvesting van ‘n raadslid.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban en The Witness in Pietermaritzburg:
Berig ses brandbestryders is dood in ‘n wegholbrand in Boston in die KwaZulu-Natalse Middellande. Drie brandbestryders is op die toneel dood terwyl drie ander weens ernstige brandwonde in die hospitaal dood is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n hoërskool in die Oshikotostreek het leerlinge se ouers in kennis gestel dat die skool se deure nie vir die tweede semester sal oopmaak nie. Die kwessie is egter intussen bygelê.
Tweedens skryf die koerant die mediese dokter en sy 58-jarige ma wat na bewering betrokke was by die molestering en verkragting van die dokter se sewejarige seun, is borgtog in die Windhoekse landdroshof toegestaan.
En laastens is daar nuus oor die herstel van ‘n vierjarige Namibiese dogtertjie wat op Vadersdag in Zambië deur ‘n perd geskop is. Sy het ernstige skedelbreuk opgedoen.