Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die geregtelike ondersoek na die Life Esidimeni-tragedie het bevind die voormalige Gautengse LUR vir Gesondheid, Qedani Mahlangu en die voormalige hoof van Gauteng se Geestesgesondheidsdienste, Makgabo Manamela is verantwoordelik vir die dood van sommige van die pasiënte. Die Nasionale Vervolgingsgesag moet nou besluit of die saak verder geneem word.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei ook met die beslissing in die Life Esidimeni-saak. Die koerant skryf AfriForum het die uitspraak verwelkom en sal dit bestudeer voordat verdere stappe gedoen word.
Tweedens word berig oor ‘n professionele jagter van Northam in Limpopo, Louis Roelofse wat deur ‘n buffel aangeval is en nou in die hospitaal aansterk.
En laastens skryf die koerant oor die 29-jarige John Lee Payne wat in die Heidelberg-landdroshof verskyn het in verband met die sluipmoord op die 74-jarige Etienne du Preez. Die 66-jarige Flip Minnaar is in dieselfde voorval gewond.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook die Nasionale Vervolgingsgesag moet nou besluit oor die Life Esidimeni-bevinding.
En berig die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie is gekritiseer omdat hy die betalings aan kunstenaars openbaar wil maak.
# Sowetan:
Vra of diegene verantwoordelik vir die Life Esidimeni-tragedie nou uiteindelik aan die pen gaan ry.
# En The Citizen:
Skryf ook oor die regering se aanspreeklikheid aan die Life Esidimeni-tragedie en berig Suid-Afrika se sensussyfers maak geen sin nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met die berig oor Louis Roelofse wat aansterk nadat ‘n buffel hom aangeval het.
En skryf die LUR vir Openbare Werke en Infrastruktuur in die Vrystaat, Dibolelo Mance het op besoek aan Durban en Kaapstad na bewering 48-duisend-rand per nag vir hotelverblyf betaal.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die chaos wat in die Wes-Kaap heers ná die gure weer die afgelope tyd. Talle paaie is gesluit, geboue beskadig en mense dakloos gelaat. Die Weerdiens het verdere waarskuwings oor swaar neerslae uitgereik.
En tweedens skryf die koerant die 27-jarige Lara le Roux is slegs ses maande na haar huwelik in ‘n motorongeluk dood. Sy en haar man Gaffie sou binnekort na Nederland emigreer.
# En Cape Times:
Skryf talle skole in die Wes-Kaap is gesluit in die lig van die vlak 8-waarskuwing wat deur die Weerdiens uitgereik is.
En die koerant berig tweedens ook oor Life Esidimeni.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die liggaam van ‘n 35-jarige stapper wat op die Otter-wandelpad vermis geraak het, is gevind.
En skryf tweedens skole in Nelson Mandelabaai is in ‘n haglike toestand omdat instandhoudingsbegrotings gebruik is om personeel aan te stel.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die nuwe burgemeester van eThekwini, Cyril Xaba sê sy eerste prioriteit is om die waterkrisis in die stad aan te spreek.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig nadat daar ’n beroep op die regering gedoen is om deursigtig te wees, het die minister van Myne en Energie, Obeth Kandjoze gesê Namibië is nie verplig om sy olietransaksies aan die publiek bekend te maak nie.
En tweedens skryf die koerant 127 blikkies vis wat vir droogtehulp aan kwesbare huishoudings in Karibib bestem was, is vernietig nadat dit tydens die aflaaiproses beskadig is.