Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die leier van Mzansi, Songezo Zibi, is die gunsteling om as voorsitter van die staande komitee oor Openbare Rekeninge verkies te word. Hy sal Mkhuleko Hlengwa van die IVP opvolg.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die 46-jarige majoor Tolla Pieterse van die Nasionale Weermag is in die Demokratiese Republiek die Kongo dood toe ‘n handgranaat ontplof het. Die weermag het ‘n dringende ondersoek van stapel gestuur.
Tweedens skryf die koerant Freedom Under Law het die geskorste regter John Hlophe se aanstelling in die Regterlike Dienskommissie as heeltemal onvanpas en irrasioneel bestempel.
En laastens word berig die trop olifante in die Pilanesberg-natuurreservaat in Noordwes wat Sondag ’n Spaanse toeris doodgetrap het, gaan nie van kant gemaak word nie.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die wydverspreide kritiek oor die verkiesing van Hlophe tot die RDK.
Berig voorts oor die polisie se planne om die vlaag van ontvoerings te takel.
En het nuus oor die groot getalle verpleegpersoneel wat die land verlaat om oorsee te gaan werk.
# Sowetan:
Berig oor die interdik wat die Balobedu-koningsgesin teen die vervaardiger van die Queen Modjadji-televisiereeks, Duma Ndlovu wil verkry om uitsending te staak.
# En The Citizen:
Skryf Hlophe maak ‘n onverwagte nuwe verskyning en publiseer ‘n pragtige fotobeeld van die wydverspreide sneeu in die land.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ook oor Tolla Pieterse en John Hlophe.
En skryf twee voormalige polisielede het skuldig gepleit nadat hulle inkbevlekte geld van ‘n transitorooftog probeer was het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n vlak 8-stormwaarskuwing is uitgereik vir Kaapstad en die stad staal hom teen wat moontlik môre te wagte kan wees. Die weerdiens sê 40 tot 100 millimeter reën kan oor verskeie dele van die Kaap uitsak. Die koerant skryf meer as 13-duisend huishoudings in die stad is reeds sonder krag.
En tweedens is daar nuus oor die EFF-leier, Julius Malema se skoene ter waarde van 30-duisend-rand wat hy by die Durban July-perdewedren aangehad het.
# En Cape Times:
Skryf oor die uitwerking van die stormweer op hawens aan die Kaapse kus.
En berig ook oor die polisie se planne teen ontvoerings.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig groot dele van Nelson Mandelabaai het gister onder kragonderbrekings deurgeloop. Motherwell, Kariega, Blue Horizon Bay, Struandale en Bloemendal was sonder krag.
En tweedens skryf die koerant ‘n geliefde fotograaf en pa van vyf van Gqeberha, Xolani Jack is doodgeskiet.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die sekerheid is opgeknap by die Musjidur Rahman-moskee in die noorde van Durban nadat ploftoestelle daar ontdek is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig vier mans is agt jaar ná die moord op ’n bekende sakeman van Walvisbaai, Hans-Jorg Möller, skuldig bevind.
En tweedens skryf die koerant dit het die likwidateurs van die SME Bank 100-miljoen-rand gekos om die 130-miljoen-rand wat gebuit is te verhaal.