Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die land se se grootste motoronderdele-kleinhandelaar, AutoZone het vrywillig aansoek gedoen vir sakeredding nadat dit deur skuld verswelg is.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ’n boer en sy swaer is die naweek naby Ventersdorp vasgekeer toe hulle ‘n veldbrand probeer blus het. Louis Scholtz en Manie Jansen van Vuuren het teen ‘n windspoed van 80 kilometer per uur geveg.
Dan skryf die koerant vyf vrouespelers van TuksRugby vertrek Vrydag na Parys as lede van die Suid-Afrikaanse vrouesewesrugbyspan wat vir die eerste keer aan die Olimpiese Spele gaan deelneem.
En laastens word berig die Suid-Afrikaanse Polisiediens het hom skuldig gemaak aan onbillike arbeidspraktyk toe hy luitenant-kolonel Jacques van den Berg van die Kliptown-polisiekantoor in Soweto nie bevorder het nie weens sy velkleur.
# The Star en Pretoria News:
Berig die besluit deur die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie om die name en bedrae wat aan Suid-Afrikaanse kunstenaars gegee word te publiseer, is deur sommige dele van die Suid-Afrikaanse musiek- en kunsbedryf gesteun.
En tweedens skryf die koerant direkteurs-generaal wat nie tariewe betaal nie is oor die vingers getik.
# Sowetan:
Berig tientalle jong gegradueerdes wat nie werk kan kry nie het in Johannesburg tougestaan vir sekerheidswag-poste wat geadverteer is.
# En The Citizen:
Het goeie nuus vir binnelanders en skryf dit gaan weer warmer word.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens hoe suster Cynthia Jantjies van die Nasionale Distrikshospitaal in Bloemfontein die trappe op en af gehardloop het met pasiënte op haar rug toe ‘n brand in die hospitaal uitgebreek het.
En tweedens skryf die koerant oor die wydverspreide sneeu in die Vrystaat en Noord-Kaap en publiseer pragfoto’s. Daar is ook nuus oor die die lae temperature in die provinsies.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Staan sy hele voorblad af aan foto’s en berigte oor die snerpende koue en wydverspreide sneeu in die We-Kaap. Die koerant berig nog ysige weer, stormsterk wind en reën word voorspel.
# En Cape Times:
Berig 29 skole in die Wes-Kaap is deur die stormweer beskadig, maar die skole in die provinsie heropen steeds vandag.
En tweedens skryf die koerant die minister van Eletrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa het gewaarsku die reuse-bedrae wat munisipaliteite aan Eskom skuld, kan die staatsonderneming sink.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die skrif is aan die muur vir byna duisend Oos-Kaapse skole wat in die volgende vyf jaar gesluit of in koshuise omgeskakel gaan word ingevolge die Onderwysdepartement se voortgesette rasionaliseringsprogram.
En tweedens is daar nuus oor Capital Hotels, Apartments & Resorts wat ‘n nuwe hotel in die Boardwalk-gebied in Gqeberha gaan oopmaak.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die skole in KwaZulu-Natal is gereed om te heropen vir die derde kwartaal.
En berig talle sakeondernemings in Durban word afgedreig deur sindikate.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Justisie sê die toelaag van twee-duisend-300-rand per maand vir regeringsinterns gaan hersien word.
Dan skryf die koerant ’n twee maande oue babadogtertjie is Sondag dood nadat sy na bewering in haar vermeende dronk ma se arms geslaap het.
En laastens is daar nuus oor die wêreld se grootste drywende boekuitstalling, Logos Hope, wat na Walvisbaai teruggekeer het. Die skip het Namibië laas in Augustus 2016 besoek.