Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die federale voorsitter van die DA, Helen Zille, het aangekondig haar party en die ANC kon nie ‘n ooreenkoms bereik oor die samestelling van ‘n Gautengse regering nie. Die ANC is bereid om vir die DA slegs drie LUR-posisies af te staan.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens oor die moord op die voormalige hoogspringwêreldkampioen Jacques Freitag. Sy liggaam is met skietwonde naby die Zandfontein-begraafplaas in Pretoria-Wes gevind. Die koerant skryf sy dood hou na bewering verband met ‘n huurmoord wat skeefgeloop het.
Tweedens skryf die koerant Loftus Versfeld sal altyd vir die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus spesiaal bly aangesien hy in 1997 in sy tweede toets vir Suid-Afrika sy eerste drie daar gedruk het.
En laastens word berig talle kliënte van Standard Bank, waaronder die Comrades-wenner Gerda Steyn, het na bewering geld verloor in verdagte transaksies op hul bankrekeninge.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die Gautengse regeringsonderhandelings wat ‘n dooiepunt bereik het.
En berig die EFF het ‘n beroep gedoen dat virtuele parlementsittings geskrap moet word.
# Sowetan:
Berig die spesiale tarief wat op voorafbetaalde krag in Johannesburg gehef word is deur die ANC-koalisie goedgekeur en verbruikers is uitgenooi om deel te neem aan die proses.
# En The Citizen:
Gee vandag ‘n uiteensetting van die verdienste van ‘n minister in die Kabinet van nasionale eenheid.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor Jacques Freitag en skryf ook oor die probleme met Standard Bank se rekenings.
En tweedens skryf die koerant verder oor die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
En tweedens berig die koerant die VN het geëis dat die Suid-Afrikaanse ingenieurs, Frik Potgieter en en Peter Huxam wat in Ekwatoriaal-Guinee aangehou word, onmiddellik vrygelaat word.
# En Cape Times:
Skryf ook oor die leierskapkrisis in Gauteng.
En berig oor die uitdagings wat die PAC se Mzwanele Nyhontso in die gesig staar met sy aanstelling as minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling in die Kabinet van nasionale eenheid.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n voormalige lid van die Blitspatrollie in Gqeberha, die 49-jarige Peter Fouche is dood terwyl hy vir die Oekraïnse weermag geveg het.
En skryf die OP-rugbyunie het ‘n reddingsboei van ses-miljoen-rand van die Nelson Mandelabaai-metro ontvang.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Lei met: “ZUMA WIELDS THE AXE”. Die koerant skryf oudpresident Jacob Zuma het die bestuur van die MK-party herstruktureer. Kenners waarsku dit kan tot ‘n gebrek aan stabiliteit lei.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Kwessies ontken beweringe van mediese nalatigheid in ’n hofeis waarin ’n vrou beweer haar linkerheup is ontwrig en haar bekken gebreek tydens die geboorte van haar kind in 2019.
Dan skryf die koerant die Kattebeskermingsvereniging van Namibië moes ’n bejaarde inwoner van die Seniorpark-aftreeoord se kat verwyder, nadat inwoners ingelig is hulle mag geen troeteldiere aanhou nie.
En laastens is daar nuus oor die De Wet-skag in Tsumeb wat tans omvattende opknapwerk ondergaan.