Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die aankondiging van die Gautengse provinsiale Kabinet is gister ter elfder uur ontspoor toe die ANC en DA opnuut oor posisies gekibbel het. Dit is die tweede keer dat die premier, Panyaza Lesufi, meer tyd vra vir onderhandelings.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei ook met die Gautengse leierskrisis. Die koerant berig van die 10 partye wat deel uitmaak van die regering van provinsiale eenheid is dit net die DA en ANC wat nie tot ‘n vergelyk kan kom nie.
Tweedens skryf die koerant die privaat sektor gaan betrokke raak om Gauteng te help om waterverliese as gevolg van swak infrastruktuur te bekamp.
En laastens is daar nuus oor die Springbokke wat voorberei vir hulle toets teen die Iere.
# The Star en Pretoria News:
Skryf Panyaza Lesufi sê hy gaan nie opdragte van die DA ontvang nie.
En berig die byvoordele vir die vergrote nasionale Kabinet sal na bewering sowat een-miljard-rand beloop.
# Sowetan:
Berig ook oor die vertraging met die aankondiging van die Gautengse Kabinet. Die koerant verwys daarna na as “deadlock 2” aangesien die aankondiging vroeër ook uitgestel is.
# En The Citizen:
Lei met “BOERE HAVE FAITH IN JOHN”. Die koerant skryf verskillende landbou-organisasies het hul tevredenheid uitgespreek met die aanstelling van John Steenhuisen as minister van Landbou.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig Steenhuisen het ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om moue op te rol en saam met die regering van nasionale eenheid te werk om die land se probleme op te los.
En tweedens skryf die koerant oor die hoogtepunte van die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met ‘n plaasaanval in Porterville waartydens die 65-jarige Gerhard Nel vermoor en sy 63-jarige vrou, Barbara aangerand is. Die egpaar is deur vyf gewapende mans oorval en verskeie vuurwapens en elektroniese toestelle is geroof.
En tweedens skryf die koerant die hof het beslis die regering moet oorweging skenk aan die eise van Oos-Kaapse boere wat miljoene rand se skade gely het weens voëlgriep.
# En Cape Times:
Skryf die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube het ‘n moeilike taak om die omstrede Bela-wysigingswet te hanteer.
En berig ook die regering van nasionale eenheid gaan die belastingbetaler baie geld kos.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-metro gaan genoodsaak wees om ladingvermindering in te stel indien die diefstal van elektrisiteit voortduur.
En skryf ‘n skool in Gqeberha word beskuldig van ‘n toesmeerdery nadat twee onderwysers glo leerders gemolesteer het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die IVP se provinsiale koalisieregering is in die weegskaal nadat die National Freedom Party gedreig het om te onttrek omdat daar nie aan hulle eise vir LUR-poste voldoen word nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig geen eksklusiewe regte sal aan enige maatskappy gegee word om toere in die Sandvishawe te onderneem nie.
En skryf tweedens die Namibia Economic Freedom Fighters gaan nie teen sy deregistrasie baklei nie, omdat dit volgens die party sinneloos is om teen die stelsel te probeer veg.