Oggendkoerant-verslag
Die aankondiging van die nuwe Kabinet oorheers vandag die nuus:
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 01 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het twee ministeries by sy Kabinet gevoeg met die aankondiging van 33 ministers wat sal deel uitmaak van die regering van nasionale eenheid. Ramaphosa het gesê hy moes die kabinet uitbrei om te verseker dat alle partye van die regering van nasionale eenheid ingesluit word.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die leier van die DA, John Steenhuisen is Suid-Afrika se nuwe minister van Landbou in die regering van nasionale eenheid. Die koerant skryf Steenhuisen se party spog met nog vyf ministers en ses adjunkministers.
Tweedens gee die koerant ‘n volledige uiteensetting van die nuwe Kabinet.
En laastens is daar ‘n berig oor die Proteas se naelbyt-eindstryd teen Indië in die T20 Wêreldkampioenskap en die hartseer daarna.
# The Star en Pretoria News:
Berig ook breedvoerig oor die aankondiging van die Kabinet en bevraagteken die besluit om partye soos die DA en VF+ in te sluit.
# Sowetan:
Berig Ramaphosa se nuwe Kabinet moet weet wat op hulle wag. Prioriteite is die bekamping van misdaad, die verskaffing van skoon water en die lewering van gesondheidsdienste om mee te begin.
# En The Citizen:
Lei met: “MEET YOUR NEW GOVERNMENT”. Die koerant skryf Ramaphosa het gisteraand gesê al die ministers is opgewasse om hul taak te verrig.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met die aanstelling van die nuwe Kabinet. Die koerant het dieselfde hoofberig as Beeld.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
En tweedens word berig die graderingsagentskap Moody’s het die Stad Kaapstad se kredietgradering van stabiel na positief opgegradeer, wat die stad se deurlopende sterk en verbeterde bedryfs- en finansiële posisie erken.
# En Cape Times:
Verwys na die nuwe Kabinet as Ramaphosa se “opgeblaaste soustrein” en skryf hy het slegs diegene wat lojaal is beloon.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ’n 23-jarige nege maande swanger vrou van Nelson Mandelabaai is die naweek helder oordag doodgeskiet. Sy het op haar ouers se sitkamervloer doodgebloei.
En tweedens skryf die koerant ‘n onwettige struktuur in die omgewingsensitiewe Papiesfontein is deur die Kouga-munisipaliteit gesloop.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Lei met: “RAMAPHOSA NAMES CABINET”. Die koerant skryf ná baie afwagting is die Kabinet aangekondig.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig stabiele pasiënte van die Katutura-staatshospitaal is tydelik na ’n veldhospitaal oorgeplaas terwyl die hospitaal opknappings- en herstelwerk ondergaan.
En skryf tweedens Namibië sal volgens die minister van Finansies en Staatsondernemings, Iipumbu Shiimi die grootste deel van sy oliebronne self benut, hoofsaaklik weens die Wet op Petroleum wat daarvoor voorsiening maak.