Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die MK-party se lede is gister ingehuldig as parlementslede. Van die bekendste name in die groep is Duduzile Zuma-Sambudla, Andile Mngxitama en John Hlophe.
GAUTENG:
# Beeld:
Beig eerstens die omstrede vroedvrou, Yolande Fouchee, voorheen Maritz, gaan strafregtelik vervolg word nadat haar beweerde slagoffers jare reeds probeer om stappe te doen. Sy sal 10 aanklagte in die gesig staar.
Tweedens skryf die koerant oor ‘n radioaktiewe stof wat nou in renosters se horings ingeplant word om stropery te bekamp.
En laastens is daar ‘n berig oor die nuwe DA-LP Ian Cameron wat deur die EFF van rassisme beskuldig is nadat hy ‘n jaar gelede sy gesig swart gesmeer het tydens ‘n betoging teen rassisme by die Universiteit van Pretoria.
# The Star en Pretoria News:
Berig die EFF het die uitsaaier eNCA as rassisties bestempel vir die kansellasie van die program van JJ Tabane. Tabane het vroeër uitgevaar teen die DA se rol in die regering van nasionale eenheid.
En tweedens skryf die koerant vakbonde is ongelukkig oor Helen Zille van die DA se voorstelle oor die aanstelling van direkteurs-generaal.
# Sowetan:
Berig terwyl die MK-party die Grondwet as koloniaal bestempel en wil skrap, het die party se lede met hul inswering as parlementslede onderneem om die Grondwet te ondersteun en onderhou.
# En The Citizen:
Skryf nieteenstaande talle gerugte is die regering van nasionale eenheid steeds op koers.
En berig oor die voormalige uitvoerende hoof van Naspers, Bob van Dijk wat glo ‘n miljoen-rand per dag verdien het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig suksesvolle gesprekke tussen president Cyril Ramaphosa en die DA-leier John Steenhuisen het die hoop laat opvlam dat die regering van nasionale eenheid binnekort bevestig sal word en die Kabinet bekend gemaak word.
En tweedens is daar nuus oor die Fauresmith perde-uithourit oor 206 kilometer wat weggespring het. Daar is vanjaar ook 6 buitelandse deelnemers van onder meer Frankryk, Turkye en Brittanje.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die raad van die Universiteit Stellenbosch het besluit dat daar eers met belanghebbendes gepraat moet word voordat die Wilgenhof-koshuis op die kampus summier gesluit word.
En tweedens skryf die koerant ook oor die rassismebewerings teen Ian Cameron.
# En Cape Times:
Skryf oudregter Hlophe wat as MK-LP ingehuldig is, sê president Cyril Ramaphosa het weggekom met Phala Phala.
En berig die SAKP het die DA se eise vir kabinetsposte verwerp.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Mandelabaai-ontwikkelingsagentskap vorder goed met die slopingswerk by Bayworld ter voorbereiding van die herontwikkeling van Gqeberha se museum- en oseanariumkompleks.
En tweedens skryf die koerant die polisie se Oos-Kaapse skakeloffisier, kolonel Priscilla Naidu tree ná bykans 40 jaar se diens af.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf binnegevegte kan die regering van provinsiale eenheid in KwaZulu-Natal kelder.
En berig die eThekwini-metroraad het 25-miljoen-rand bewillig vir sekerheidsvoertuie.
# En The Witness in Pietermaritzburg:
Berig die MK-party is besig om homself voor te berei om die opposisiebanke in te neem.
En skryf koning Misuzulu ka Zwelithini het die KwaZulu-Natalse provinsiale kabinet ontmoet.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Onderwys, Kuns en Kultuur se besluit om ’n omsendbrief van 2019 oor die indiensneming van onderwysers terug te trek, het talle gegradueerdes met onsekerheid gelaat oor of hulle werk gaan kry.
En skryf tweedens, Jandré Dippenaar wat skuldig bevind is aan moord ná ‘n motorongeluk waarin ses mense omgekom het, bly in aanhouding tot 20 Augustus wanneer slotbetoë voor vonnisoplegging gelewer sal word.