Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig mededingingsowerhede wil hê supermarkte moet die per kilogram- of grampryse van alle vars vrugte en groente in winkels begin vertoon. Die Mededingingskommissie sê dit sal verbruikers in staat stel om pryse tussen kleinhandelaars te vergelyk.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die groot aanvraag vir kaartjies vir die Verenigde Rugbykampioenskap-einstryd op Loftus Saterdag.
Tweedens skryf die koerant oor die inhuldiging van president Cyril Ramaphosa by die Uniegebou vandag en berig hy sal moeilike besluite moen neem om sy kabinet saam te stel.
En laastens is daar nuus oor die hofbeslissing dat die eienaar van ‘n pitbull aanspreeklik is nadat sy hond ‘n 13-jarige meisie gebyt het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die regering van nasionale eenheid kan tot op plaaslike regeringsvlak uitgebrei word.
En berig Johannesburg maak gereed vir wydverspreide wateronderbrekings.
# Sowetan:
Berig die nuwe premiers van Mpumalanga en KwaZulu-Natal is dit eens – hulle mag die mense nie in die steek laat nie.
# En The Citizen:
Skryf die ANC is met die oprigting van die regering van nasionale eenheid, nie langer ‘n sogenaamde “people’s party” nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ‘n vrou van Bloemfontein is dood nadat sy deur haar verloofde se vier pitbulls aangeval en verskeur is. Die honde het haar glo aangeval toe sy haar kind ‘n pak slae wou gee.
En tweedens skryf die koerant ook oor Ramaphosa se inhuldiging en die afwagting vir sy kabinetsaankondiging.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die aanval op die 74-jarige Lalie Engelbrecht van Bredasdorp. Engelbrecht is in haar kombuis oorval en ernstig beseer, maar sy kan nie veel van die aanval onthou nie en weet nie hoeveel aanvallers daar was nie.
En tweedens skryf die koerant die ingenieur wat betrokke was by die gebou in George wat ineengestort het, is voorlopig deur die Ingenieursraad geskors.
# En Cape Times:
Skryf die Phala Phala-fiasko hang soos ‘n donker wolk oor Ramaphosa se inhuldiging vandag.
En berig oor die verwagte daling in brandstofpryse volgende maand.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor ‘n vrou wat ‘n aanval op ‘n taverne in Walmer oorleef het. Sy vertel van haar vrees toe vyf gewapende mans die drinkplek binnegestorm het.
En tweedens skryf die koerant die jongste binnegeveg by die OP Rugbyunie gaan oor die hoofhek wat met ‘n slot toegesluit was.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die nuwe premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli het uit die staanspoor bewys ‘n nuwe besem vee skoon.
En tweedens is die koerant een van die min wat berig oor die voorgenome slagting onder Media24 se koerante en die aflegging van 400 personeellede.
# En The Witness in Pietermaritzburg:
Stel die nuwe provinsiale kabinet bekend wat deur Ntuli van die IVP aangestel is. Die ANC, DA en National Freedom Party is in die kabinet verteenwoordig.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ouma van ‘n sewejarige slagoffer het ontken dat sy wag gestaan het terwyl haar seun, ‘n 36-jarige mediese dokter, sy seun verkrag het.
En tweedens is daar nuus oor die damvlakke in Gobabis. Namwater sê die damme is 2,4-persent vol teenoor 7,7-persent verlede jaar.