Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die ANC het sy lys premierskandidate vir provinsies bekend gemaak en dit blyk dat Panyaza Lesufi sal terugkeer na Gauteng. Daar word bespiegel oor ‘n vrou wat die Vrystaat sal oorneem en onderhoude is reeds verlede week gevoer.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf die gewonde buffel (president Cyril Ramaphosa) het oorleef om ‘n regering van nasionale eenheid te vorm.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die EFF is steeds besig om met die ANC te onderhandel oor deelname aan ’n regering van nasionale eenheid, maar weier om saam met die DA daarin te dien.
En tweedens skryf die koerant die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, is optimisties dat die Bulle môre op Loftus Versfeld Leinster sal vasvat in die halfeindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap.
# The Star en Pretoria News:
Skryf Ramaphosa sal nou waarskynlik klagtes van beweerde meineed oor die Phala Phala-fiasko moet afweer.
En skryf die EFF-leier, Julius Malema het kort voor die eerste sitting van die Parlement weer sy taktiek verander.
# En Sowetan:
Speel vanoggend met woorde in sy hoofopskrif: “A GNU DAWN”. Die koerant berig die ANC sê daar was ‘n deurbraak in sy samesprekings en die belangrikste partye besluit oor hul steun vir ‘n presidentskandidaat.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met die jongste oor die regering van nasionale eenheid.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die ANC het met 17 partye gesprek gevoer maar ‘n ooreenkoms vir ‘n regering vir nasionale eenheid is nog nie afgehandel nie. Die koerant skryf ook alles is gereed vir die eerste sitting van die Nasionale Vergadering by die Kaapstad Konvensiesentrum vanoggend.
En tweedens word berig die Universiteit Stellenbosch se besluit om Wilgenhof-koshuis te sluit het wydverspreide kritiek ontlok.
# En Cape Times:
Skryf die Wes-Kaapse premier, Alan Winde het besluit om Nomafrench Mbombo en Sharna Fernandez nie weer in sy kabinet aan te stel nie,
En berig ook alles is gereed vir die eerste parlementsitting vandag.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die inwoners van Rocklands gaan steeds gebuk onder die vloedskade ná die swaar neerslae verlede week.
En skryf Mercedes Benz se planne om 700 werknemers af te lê is ‘n groot slag vir Nelson Mandelabaai.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die MK-party sal nie betrek word by die regering in KwaZulu-Natal nie. Die IVP, DA, ANC en die National Freedom Party het ‘n koalisie gevorm.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die versengende droogte is besig om sy tol op wilde diere te eis met sowat 135 seekoeie wat gestrand is in die Choberivier wat besig is om op te droog.
En tweedens skryf die koerant slegs sowat 9,5-persent van Namibië se een-duisend-725 staatskole het biblioteke.