Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die uitvoerende hoof van Alexforbes, Dawie de Villiers sê hulle verwag ‘n kapitaal-uitvloei van sowat 50-miljard-rand in die sektor wanneer die tweepotstelsel in September in werking tree.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die DA-leier, John Steenhuisen sê die samesprekings oor ‘n regering van nasionale eenheid moet bespoedig word, want as daar nie ‘n ooreenkoms in plek is nie, gaan die DA nie president Cyril Ramaphosa in die presidentsverkiesing ondersteun nie.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n geheime projek om 120 witrenosters in bewaringsgebiede aan die westelike grens van die Kruger-wildtuin te hervestig.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die regering van nasionale eenheid word uit sekere oorde bestempel as ‘n dekmantel vir ‘n ANC/DA-koalisie.
En berig City Power is in der waarheid besig om beurtkrag terug te bring met sy kragverdelingsprojek.
# Sowetan:
Berig skoolhoofde wat ouers aanraai om hul Graad 11-seuns nie inisiasieskool toe te stuur nie, maar eerder te laat studeer word gekritiseer.
# En The Citizen:
Skryf Business Leadership South Africa het Ramaphosa gewaarsku om die regering van nasionale eenheid in te stel voor die land se sukkelende ekonomie verder agteruitgaan.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met dieselfde hoofberig as Beeld oor John Steenhuisen.
En tweedens word berig die vermeende slagoffers van die gimnastiekafrigter, Derek Bezuidenhout sê hulle is verbitterd oor die verskoningsbriefies wat hulle nou ontvang. Bezuidenhout het selfdood gepleeg toe klagtes van seksuele aanranding teen hom aan die lig gekom het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die DA se waarskuwing.
En tweedens skryf die koerant oor agt verdagtes wat vandag in die hof verskyn in verband met onwettige perlemoenhandel ten bedrae van 37-miljoen-rand.
# En Cape Times:
Skryf die EFF gaan sy skorsing om die Staatsrede by te woon in die Konstitusionele Hof toets.
En berig die Parlement steur hom nie veel aan die MK-party se planne om die eerste sessie te boikot nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig verbruikers mag moontlik brandstoftekorte ondervind ná ‘n skeepsongeluk in die Port Elizabeth-hawe die invoer van brandstrof deur die hawe onmoontlik gemaak het.
En tweedens skryf die koerant die verskaffing van behuising aan die slagoffers van oorstromings kan probleme veroorsaak indien diegene wat lank reeds op behuising wag oor die hoof gesien word.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf talle van die IVP se ondersteuners is nie ten gunste van ‘n koalisie wat die ANC en DA insluit nie. Die voorkeur is die MK-party.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar bestaan kommer oor die sekerheid van die Verkiesingskommissie van Namibië se biometriese data vir kieserregistrasie wat reeds die afgelope 12 jaar in die buiteland gehuisves word.
Dan skryf die koerant nadat die hervorming van Namibië se Ehskeidingswet reeds in 2004 begin is, het die minister van Justisie, Yvonne Dausab nog ‘n stel wysigings voorgestel.
En ten slotte publiseer die koerant ‘n foto van die komeet Pons-Brooks wat in Namibië geneem is.