Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die ANC se nasionale uitvoerende komitee sal na verwagting vandag ‘n voorstel oorweeg om die moontlikheid van ‘n formele koalisie-ooreenkoms met óf die DA óf EFF te verwerp. Voorstelle word oorweeg dat poste in die Parlement aan kleiner opposisiepartye insluitend die DA en EFF aangebied word.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa het bedank en in die hof verskyn op aanklagte van korrupsie. Die sakeman, Jehan Mackay wat Kodwa na bewering omgekoop het, het saam met hom verskyn.
En tweedens skryf die koerant die Comrades-marathon se mediese span onder leiding van dokter Jeremy Boulter is gereed om enige ongeval tydens die marathon te hanteer.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die staat se saak teen Kodwa is nie baie sterk nie.
En berig die e-taxi-diens Bolt het die diens van ses-duisend van sy bestuurders opgeskort.
# Sowetan:
Berig ook oor Kodwa se hofverskyning en skryf die redes wat die voormalige minister verskaf het vir die beweerde gunsloon wat hy ontvang het was nie genoeg om die polisie te oortuig nie.
# En The Citizen:
Skryf die ANC se NUK sal vandag drie opsies oorweeg om die land te regeer met ‘n regering van nasionale eenheid boaan. Volgens kenners kan dit ‘n ooreenkoms insluit waarvolgens party-politieke beginsels uitgesluit is.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die veroordeelde verkragter en moordenaar, Thabo Bester het gister in ‘n deurmekaar gebrabbel sy lot bekla in die Hooggeregshof in Bloemfontein.
En tweedens skryf die koerant die omstrede diamanthandelaar, Louis Liebenberg het gister ter elfder ure aansoek gedoen dat die beslagleggingsbevel teen sy diamantmyn op Koing-naas in die Noord-Kaap nie uitgevoer moet word nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met Kodwa en het dieselfde hoofberig as Beeld.
En tweedens word berig ‘n 44-jarige prokureur verskyn vandag in die hof nadat hy by die Kuilsrivier-landdroshof met dagga en Mandrax in sy besit in hegtenis geneem is.
# En Cape Times:
Skryf soos The Star en Pretoria News ook oor Kodwa en die ses-duisend Bolt-bestuurders.
Voorts word berig die skade as gevolg van die Oos-Kaapse oorstromings kan nagenoeg 500-miljoen-rand beloop.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig eerstens die ANC in die Oos-Kaap sê daar is nie ‘n kans dat president Cyril Ramaphosa sal bedank nie.
En skryf George Malgas is ná ‘n lang hofstryd weer as waarnemende president van die Oostelike Provinsie Rugbyunie aangestel
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die IVP en MK-party maak vordering om ‘n koalisieregering in KwaZulu-Natal te vorm.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Dundee Precious Metals het in reaksie op klagtes van inwoners wat kla oor van sere op hul liggame tot erge longsiektes gesê die swaelsuur aanleg vang 98-persent van die swaeldioksiedvrystellings op.
En tweedens skryf die koerant die jong netbalster en oud-Namibiër Enya Burger is in Nieu-Seeland se o.17-binnenshuise nasionale span opgeneem, nadat sy in 2020 saam met haar gesin na die land emigreer het.