Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die laer vlakke van beurtkrag sal die ekonomie help om later vanjaar sy pas te versnel, nadat dit in die eerste kwartaal gekrimp het. Die uitslag van die koalisiesamesprekings sal volgens ekonome die grootste deurslag gee.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens oor die stormskade in dele van KwaZulu-Natal. Die koerant skryf inwoners het deur die puin van huise gegrawe op soek na hul besittings. Die skade word op 10-miljoen-rand beraam.
En tweedens is daar nuus oor ‘n 80-jarige slagoffer wat twee vermeende inbrekers doodgeskiet het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die ANC het ten sterkste ontken daar is interne verskille ten opsigte van hul koalisiesamesprekings.
En berig die UDM het die OVK genader oor die toekenning van setels in die Nasionale Vergadering.
# Sowetan:
Berig oor Dikeledi Moema wat verskeie senior poste in die Presidensie, die Vervolgingsgesag en ander staatsdepartemente beklee het en nou saam met haar seun Fidelis van bedrog en geldwassery aangekla word.
# En The Citizen:
Skryf terwyl die MK-party met oorlogspraatjies na die onderhandelingstafel is het die ander partye ‘n middeweg gesoek vir ‘n oplossing vir die land se toekoms. Volgens kenners is ‘n ANC/DA-koalisie steeds die beste uitweg.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met die koalisiesamesprekings tussen verskillende partye om ‘n regering saam te stel en die teenstand in die ANC teen ‘n koalisie met die DA.
En tweedens skryf die koerant oor die wydverspreide sneeu wat in die land voorgekom het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die teenstand in die ANC se NUK teen ‘n koalisie met die DA.
En tweedens gee die koerant ‘n skematiese voorstelling van al die storms, oorstromings en sneeuval in die land.
# En Cape Times:
Skryf die voormalige burgemeester van Sentraal-Karoo en huidige leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie is deur die hof beveel om sy volle samewerking aan ondersoekers te gee wat ondersoek instel na korrupsie in die Karoo-munisipaliteit.
En berig die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka het bevind daar is geen beskerming vir geslagsgeweldslagoffers in Suid-Afrika nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die reën en sneeu belemmer noodlenigingspogings in die Oos-Kaap.
En skryf die ANC in die Oos-Kaap sal drie name aan Luthuli-huis voorsien voordat ‘n besluit oor ‘n premier gemaak word.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die anti-apartheidsaktivis Alan Boesak het die ANC gewaarsku teen ‘n koalisie met die DA.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig kritiek is uitgespreek oor die minimum loon van 18-rand per uur wat na verwagting in Januarie 2025 in werking sal tree.
Dan skryf die koerant Namibië en Angola het weer eens besluit om die reuse-Baynesdam en hidrokragopwekkingsprojek aan te pak.
En laastens word berig die Namibiese operasanger, Galilei Njembo is in Mexikostad gestrand en moet geld insamel om terug te keer huis toe.