Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 31 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die ANC staar ‘n geskiedkundige uitdaging van sy oorheersing in die gesig. Dit is veral die geval in Gauteng en KwaZulu-Natal. Volgens ‘n ontleder gaan die verandering in die politieke landskap moeilik omgekeer kan word.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf die ANC is op talle fronte onder druk. In KwaZulu-Natal deur die MK-party, deur ‘n groep wat teen die leierskap agiteer in die Oos-Kaap en ‘n verlies aan steun in Gauteng.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei ook met die onverwagte steun wat die MK-party in KwaZulu-Natal ontvang het. Die koerant berig politieke kenners is van mening Jacob Zuma het vir ‘n slagting gesorg. Daar is ook nuus oor die ANC wat nasionaal teruggesak het en die DA wat groei toon.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die ANC-voorsitter Gwede Mantashe het die media veroordeel omdat hulle die ANC verdoem.
En berig daar was na bewering selfs een stem vir die EFF in Orania.
# En Sowetan:
Lei met die Zoeloe-woord “isiphithiphithi” wat verwarring beteken. Die koerant verwys na die ANC se ooglopende nederlaag in KwaZulu-Natal, maar skryf daar is steeds belangrike kiesafdelings wat getel moet word.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die ANC in die Vrystaat kan moontlik terugsak tot 52-persent. Dit is ‘n daling van 10 persentasiepunte. Dit blyk die ANC het stemme afgestaan aan die DA en MK-party.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig president Cyril Ramaphosa se ANC is in skaakmat. Die koerant skryf ook oor KwaZulu-Natal. Voorts word berig die DA sal waarskynlik die Wes-Kaap behou of saam met die VF Plus ‘n regering vorm.
# En Cape Times:
Skryf Zuma se MK-party spook by die ANC.
En berig ook oor Gwede Mantashe se aanval op die media.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Oos-Kaapse ANC-leier Oscar Mabuyane sê hy is bekommerd dat sy party sy meerderheid in die parlement kan verloor weens die opkoms van die MK-party en dalende steun in Gauteng
En skryf tweedens die verskillende politieke partye in Nelson Mandelabaai verskil oor die stempersentasie in die stad.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf KwaZulu-Natal maak homself gereed vir ‘n nuwe regering deur die MK-party.
# En The Witness in Pietermaritzburg:
Berig die MK-party het uit die staanspoor die leiding geneem in KwaZulu-Natal.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Direktoraat van Bosbou in die ministerie van die Omgewing, Bosbou en Toerisme slaan toe op plase waar beskermde mopaniebome vir houtskool en brandhout geoes en uitgevoer word.
En skryf tweedens ‘n tender vir 1,3-miljard-rand se medisyne word tersyde gestel omdat die Verkrygingsraad versuim het om te voldoen aan die grondwetlike verpligting van prosedurele billikheid.