Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Verkiesingskommissie voorspel ‘n stempersentasie van 66-persent of selfs hoër en dit is 20-persent hoër as die plaaslike verkiesing in 2021. Volgens kenners kan dit nadelige gevolge inhou vir die ANC se magsbasis.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ook oor die verwagte hoër stempersentasie en skryf oor spesiale maatreëls wat getref is om stemlokale waar die toeloop groter was vinniger te laat beweeg. Daar is ook nuus oor probleme wat by stemlokale ondervind is wat daartoe gelei het dat die lokale laat oopgemaak het.
En tweedens word berig oor die stemprobleme van die skrywer Dana Snyman wat glo ‘n sms gekry het maar nie sy kruisie kon trek nie.
# The Star en Pretoria News:
Skryf kiesers wat besluiteloos is, kan die hele politieke scenario verander.
En berig die polisie sal die stembusse oornag bewaak.
# Sowetan:
Lei met: “WE SHOWED UP”. Die koerant berig ook oor die hoër verwagte stempersentasie en kiesers wat sê hul deelname aan die verkiesing bemagtig hulle om aktiewe landsburgers te wees.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die eerste aanduidings is dat die stempersentasie in die Vrystaat en Noord-Kaap laag is. Teen sesuur gistermiddag het net sowat 14-persent van die geregistreerde kiesers gestem. Die DA sê dit kan toegeskryf word aan ANC-ondersteuners wat apaties staan teenoor hul party.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die verkiesing en het ‘n foto-montage van die belangrikste stemlokale in die land op sy voorblad.
# En Cape Times:
Berig die lang wag begin nou eers – dit is die gewag op die uitslae.
En tweedens skryf die koerant die kiesers gaan geskiedenis maak in die land.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig hoewel die stemlokale in Gqeberha se noordelike gebiede druk besoek is, was daar talle wat ook besluit het om weg te bly en hul ongelukkigheid só te kenne gegee het.
En tweedens skryf die koerant sig- en fisies-gestremde inwoners van Nelson Mandelabaai sê daar is nie voldoende vir hulle voorsiening gemaak nie
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die mense het gestem vir ‘n beter lewe in Suid-Afrika. Die koerant se hoofopskrif lui: “THE PEOPLE HAVE SPOKEN – WE WANT CHANGE”.
# En The Witness in Pietermaritzburg:
Berig oor die reuse-opkoms by stembusse in KwaZulu-Natal.
En skryf Pietermaritzburg gaan ‘n kragopwekker van 3,5-miljoen-rand aanskaf.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ouers van Walvisbaai wat dae lank wil toustaan voor skole waar die inskrywingsproses vir preprimêre en graad 1-leerders oopmaak, is gewaarsku dat hul kinders glo nie oorweeg sal word nie.
En tweedens skryf die koerant meer as 80-persent van die voorvalle van selfdood wat sedert die begin van die jaar aangemeld is, is mans.