Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika se hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo sê pogings om die uitslag van die algemene verkiesing vandag verdag te maak is georkestreer. Hy sê video’s wat die naweek versprei is, beweer die verkiesing is nie vry en regverdig nie, nog voordat dit plaasgevind het.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ook oor vrese dat die uitslae van die verkiesing nou reeds ondermyn word. Die koerant skryf die OVK is oortuig daar is ‘n doelbewuste poging om die verkiesing verdag te maak.
En tweedens is daar ‘n berig oor die rugbybyeenkoms tussen die Hoërskool Menlopark en Afrikaanse Hoër Seunskool wat ter elfder ure deur Menlopark gekanselleer is. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat dit gebeur.
# The Star en Pretoria News:
Lei met “DO IT FOR YOUR CHILDREN”. Die koerant skryf elke Suid-Afrikaner het vandag die geleentheid om ‘n verandering te maak.
En tweedens word berig oor die Appèlhof se beslissing dat die struggle-lied “shoot the Boer” nie haatspraak is nie.
# En Sowetan:
Deel vandag die menings van sy lesers oor die keuses wat hul gaan uitoefen en die redes daarvoor.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die verkiesingsbeplanning vir die Vrystaat en Noord-Kaap. Volgens die plaaslike tak van die Verkiesingskommissie is daar probleme ondervind met die elektroniese toestelle by stembusse, maar die res van die proses verloop vlot.
En tweedens skryf die koerant ook oor die Appèlhof se beslissing oor “shoot the Boer”.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het ‘n montage van verkiesingskoerantvoorblaaie sedert 1994 en ‘n redakteursbrief wat lesers aanmoedig om standpunt in te neem teen die korrupsie van die ANC-regering.
# En Cape Times:
Skryf die mense het vandag die mag in hand – hulle moet dit verantwoordelik gebruik.
En tweedens word berig UNISA het sy bande gesny met alle Israelse maatskappye en instansies.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ANC struggle-veteraan Mike Xego het teruggekeer na die party nadat hy sy steun in die vorige verkiesing onttrek het.
En tweedens skryf die koerant oor die verwagtinge in die Oos-Kaap vandag.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Lei met: “SOUTH AFRICA THIS IS YOUR DAY”.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar is verdeelde gevoelens in Namibië oor die besluit om 28 Mei tot Nasionale Volksmoordherdenkingsdag te verklaar.
En tweedens skryf die koerant Suid-Afrikaners bring vandag hul stemme uit in wat as die land se mees mededingende verkiesing in sy geskiedenis beskou word.