Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die uitvoerende hoof van Pick ‘n Pay, Sean Summers sê die kleinhandelgroep gaan ingrypende veranderinge aanbring ten opsigte van sy QualiSave-handelsmerk en meer Boxer-winkels oopmaak. Dit volg ná die groep se eerste jaarlikse verlies in 57 jaar.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met dag een van verkiesing 2024. Die koerant berig die eerste dag waarop spesiale stemme uitgebring is, het redelik vlot verloop. Slegs 107 van die sowat 23-duisend verkiesingslokale landswyd kon nie open nie.
Daar is ook ‘n redakteursbrief op die voorblad waarin die koerant sy lesers aanmoedig om teen die ANC te stem.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die nuuskanaal eNCA het ontken dat hy teen oudpresident Jacob Zuma diskrimineer om nie ‘n onderhoud uit te saai nie.
En berig ook oor die kleiner probleme wat ingesluip het op die eerste dag van die verkiesing.
# Sowetan:
Berig die Verkiesingskommissie sê hy het alles in sy vermoë gedoen om die kiesers in te lig om te stem waar hulle geregistreer is. Die kommissie sê jy kan nie net wakker word en besluit om by ‘n ander stemlokaal te gaan stem nie.
# En The Citizen:
Lei met: “POLLS: ALL YOU NEED TO KNOW”. Die koerant publiseer ‘n volledige gids vir kiesers.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die verloop van die eerste dag van spesiale stemme in die Vrystaat en Noord-Kaap. Die koerant skryf hoewel alles nie foutloos verloop het nie, was daar geen groot probleme nie.
En tweedens skryf die koerant die 69-jarige Johannes Christoffel Greyling van Ladybrand is in hegtenis geneem nadat hy die 18-jarige Luke de Villiers van Johannesburg wat op ‘n buurplaas gekuier het in die skouer geskiet het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met ‘n hoofberig oor die eerste dag se stemmery en skryf alles het meestal vlot verloop.
En tweedens word berig die Universiteit Stellenbosch het die uitvoerende hoof van die landbou-organisasie Saai, dokter Theo de Jager ingelig ‘n vorige skuldigbevinding aan bedrog diskwalifiseer hom nie uit die universiteit se konvokasie nie.
# En Cape Times:
Skryf die polisie het versterkings ontplooi om die gewelddadige taxi-staking in Mthatha te hanteer.
En berig daar is nog menslike oorskot by die George-ramptoneel gevind.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig foutiewe kiesersbestuurtoestelle, kieserslyste wat nie in alfabetiese orde beskikbaar was nie, lang toue en stemlokale wat laat oopmaak, was van die probleme wat op die eerste stemdag in Nelson Mandelabaai ondervind is.
En tweedens skryf die koerant weermagsoldate is ontplooi om gewelddadige taxistakings te bekamp wat daartoe gelei het dat meer as 100 stemlokale in die Oos-Kaap nie geopen het nie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die polisie in KwaZulu-Natal is op hoë gereedsheidsgrondslag geplaas nadat die MK-party gedreig het met verkiesingsgeweld in die provinsie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die regering se besluit om meer as 125-miljoen-rand opsy te sit vir internskappe is deur sommige as ‘n politieke foefie afgemaak.
En tweedens skryf die koerant ’n groep Angolese burgers wat houtware op straat in Windhoek en Swakopmund verkoop, is ontevrede omdat hulle in ’n tydelike tuiste geplaas is.