Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die medevoorsitter van die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur-koördineringsentrum, luitenant-generaal Tebello Mosikili het vragmotorbestuurders gewaarsku om hul griewe op ‘n wettige wyse te hanteer. Sy sê die sentrum is bewus van gerugte oor ‘n landswye staking die week.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die reuse-opkoms van Suid-Afrikaners by stembusse in die buiteland. Van die kiesers in Londen moes tot vier ure wag om hul kruisies te trek. Sowat 78-duisend Suid-Afrikaners is geregistreer om in die buiteland te stem.
En tweedens berig die koerant afsonderlik oor die kragmetings tussen Afrikaanse Hoër Seunskool en Grey Kollege, en Potchefstroom Gimnasium teen die Hoër Volkskool Potchefstroom. Die onderskeidelike wenners was Grey met 31-27 en Gimmies met 30-13.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die Konstitusionele Hof sal vandag uitspraak lewer oor oudpresident Jacob Zuma se status in die verkiesing op 29 Mei.
En berig die sekerheidsplanne vir die verkiesing is in plek.
# Sowetan:
Berig boukontrakteurs in Orange Farm sê ‘n ANC-raadslid, Zacharia Mokoari eis na bewering gunslone van hulle nadat tenders toegeken is. Een ontwikkelaar sê hy moes reeds 500-duisend-rand betaal.
# En The Citizen:
Skryf ook oor die duisende Suid-Afrikaners wat in die buiteland opgedaag het om te stem.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die Vrystaatse LUR vir Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, Maki Mahasa is geskors nadat sy skynbaar vrae gevra het oor drie-miljoen-rand se verkwistende uitgawes tydens die demokrasievieringe in Thaba Nchu. Mahasa sê egter dit hou verband met haar verbintenis met die ACT-leier, Ace Magashule.
Tweedens skryf die koerant ook oor Grey Kollege se oorwinning in Pretoria.
En laastens word berig die liggaam van die 23-jarige Pierre Lotter van Kathu het gister na wat berig word by Melkbosstrand uitgespoel. Hy het tydens ‘n hengeluitstappie vermis geraak.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die soektog na 11 vermiste vissers is afgelas nadat die vistreiler FV Lepanto in die Kaapstad-hawe gesink het. Nege oorlewendes is gered nadat ‘n stikstoftenk op die boot ontplof het.
En tweedens skryf die koerant ook oor Pierre Lotter se liggaam wat gevind is.
# En Cape Times:
Skryf daar gaan ondersoek ingestel word na die dood van die 11 vissers in die Kaapstad-hawe.
En berig oor ‘n swem-tog na Robbeneiland om geld in te samel vir dierebeskerming.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig met net meer as ses weke oor tot die begin van ‘n nuwe boekjaar, moet die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit sowat 800-miljoen-rand uitgee of die risiko loop om die geld aan die Nasionale Tesourie te verbeur.
En tweedens skryf die koerant bewerings dat fondse van die Nelson Mandelabaai-busstelsel wanbestee is, het die maatskappy wat die diens bedryf, Spectrum Alert in die hof laat beland want die munisipaliteit wil die beheer terugneem.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die ANC sê hy maak staat op die mense van eThekwini om vir hom te stem.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië beoog om teen 2026 die status van MIV/vigs as ’n bedreiging vir openbare gesondheid te beëindig met die ondersteuning van ‘n skenking van 619-miljoen-rand deur die Globale Fonds.
En tweedens skryf die koerant Swapo het bewerings ontken dat hy China se Kommunistiese Party gevra het vir finansiële bystand om te verseker dat die party die komende verkiesing in November wen.