Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf Fitch Solutions se navorsingsarm, BMI, sê die DA-geleide veelparty-koalisie staan nie ‘n kans om die bewind van die ANC oor te neem nie. BMI sê die alliansie se twee grootste partye is nie gereed om na die verkiesing ‘n koalisie met die ANC te oorweeg nie.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Vra of die Nasionale Gesondheidsversekering ‘n kuur vir die ANC se verkiesingsprobleme is of ‘n oplossing om gesondheidsorg na almal uit te brei.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Universiteit van Johannesburg se Sentrum vir Maatskaplike Ontwikkeling in Afrika het ‘n peiling gedoen wat daarop dui dat die ANC nie kiesers gaan lok met maatskaplike toelaes nie. Die vernaamste kwessie is werkskepping.
Tweedens skryf die koerant oor die stryd tussen die eerstespanne van die Potchefstroom Gimnasium en die Hoër Volkskool wat die naweek plaasvind.
En laastens is daar ‘n brokkie oor die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken wat sy lyf rock-ster gehou het met ‘n kitaar in ‘n kroeg in Kiëf.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die stigter van die African Movement Congress, Roy Moodley word na bewering in verband met bedrog ondersoek.
En berig oor Suid-Afrikaners in die buiteland wat die naweek gaan stem.
# Sowetan:
Berig nagenoeg 81-duisend straatligte in Johannesburg is buite werking en al hoe meer vroue neem selfverdedigingsklasse en bewapen hulself.
# En The Citizen:
Skryf niks gebeur deesdae in Suid-Afrika indien jy nie bereid is om ‘n gunsloon te betaal nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die inwoners van die Noord-Kaap is bekommerd dat die gesondheidsdiens in die provinsie in duie stort terwyl president Cyril Ramaphosa spog met gesondheidsversekering. ‘n Inwoner van Fraserburg is dood aan asemnood toe hy voor die geslote deure van die plaaslike kliniek moes omdraai.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n 64-jarige vrou van Sasolburg wat in hegtenis geneem is toe sy glo ANC-plakkate op straat met haar kierie bygedam het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig Solidariteit sê die stryd teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette begin nou eers in alle erns nadat die Nasionale Vergadering dit aanvaar het.
Tweedens skryf die koerant ‘n 64-jarige man wat te siek was om verder te stap in die Visrivier-canyon sal nou ná vyf dae eers gered word nadat sy mediese fonds uiteindelik toestemming gegee het dat hy per helikopter verwyder mag word.
En laastens word berig Simonsvlei se brandewyn is baie gewild by die Nampo-oesdag in Bothaville.
# En Cape Times:
Skryf daar sal binnekort ‘n vise-kansellier vir die Unversiteit van Kaapstad aangestel word.
En berig oor die verwagte brandstofprysdaling in Junie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Ramaphosa het met die naasbestaandes van slagoffers in George gepraat.
En skryf oor voortgesette optrede deur die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit om wanbetalers se krag af te sny.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ses verdagtes is in twee afsonderlike voorvalle dood in skietgevegte met die polisie in KwaZulu-Natal.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig vier uit vyf bejaardes in Namibië woon in landelike gebiede, dikwels in uiterste armoede.
En skryf tweedens die bestuur van die Mynwerkersunie van Namibië is in chaos gedompel met die waarnemende president wat sy voorganger en die voormalige adjunkpresident van korrupsie beskuldig.