Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf werkgewers in die staalsektor het ‘n bo-inflasie multi-termyn loonooreenkoms met die metaalwerkersvakbond, Numsa onderteken, wat moontlik ‘n presedent vir toekomstige arbeidsooreenkomste skep en die bedryfskoste in die sektor sal opjaag.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens die pa van Centurion wat van aanranding aangekla is ná die toediening van lyfstraf vir sy drie- en sewejarige dogters en vyfjarige seun, het skuld beken. Hy het in die hof aangevoer hy was nie bewus dit is teen die wet nie.
En tweedens skryf die koerant oor die gedenkdiens vir Louw en sy dogter Michelle Badenhorst wat saam in ‘n motorongeluk omgekom het. Louw was die adjunkhoof van die Laerskool Tuinrand in Pretoria-Wes.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ‘n Gautengse man is met A-pokke (voorheen bekend as aappokke) gediagnoseer.
En berig die MK-party sal nie in hierdie stadium ‘n tussentydse leier aanwys nie.
# En Sowetan:
Berig ‘n prokureur en nog vier persone is in hegtenis geneem nadat hulle mense na bewering met ‘n vals pensioenfonds uit nagenoeg 15-miljoen-rand bedrieg het. Altesaam 16 gesinne is reeds as slagoffers geïdentifiseer en die polisie vra dat nog slagoffers na vore kom.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die twee verdagtes wat aangekla word van die moord op die bejaarde Christo en Christa Morrison van Glen, het hulle na bewering gemartel om 220-duisend-rand oor te plaas.
En tweedens het die koerant nuus oor die Nampo-oesdag in Bothaville waar vanjaar nagenoeg 70-duisend besoekers verwag word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die hofverskyning van die ma van die vermiste Joshlin Smith op aanklagte van ontvoering en mensehandel. Kelly Smith het op navraag aan joernaliste by die hof gesê haar moedersdag was lekker.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n 60-jarige branderplankryer wat in ‘n bewustelose toestand by Bloubergstrand uit die see gehaal is. Paramedici kon egter nie sy lewe red nie.
# En Cape Times:
Skryf die stigter van die MK-party, Jabulani Khumalo dring daarop aan dat hy as partyleier aangestel moet word.
En berig die e-taxibestuurder wat na bewering twee vroue met ‘n mes gesteek het, is in hegtenis geneem.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n minuut van stilte is Maandag om 14:09 in George gehou op die presiese tyd ‘n week gelede toe die gebou ineengestort het.
En skryf tweedens Transnet sê hy is vol vertroue dat die stof waaroor die inwoners van Humewood en Suid-einde kla, nie van die Port Elizabeth-hawe se mangaanterminaal af kom nie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf oor die beweerde verkragting van ‘n kind by ‘n kleuterskool in Durban. Die polisie stel ondersoek in.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig nadat ’n man verlede week by die Katutura-gesondheidsentrum in Windhoek dood is, het die ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste bewerings van nalatigheid ten sterkste ontken.
En skryf tweedens die voorlopige ondersoekverslag oor die vliegongeluk in Windhoek wat drie lewens geëis het, sal na verwagting teen die einde van die maand voltooi wees.