Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oor Shell se gedeeltelike onttrekking uit Suid-Afrika. Dié Britse multinasionale olie- en gasmaatskappy is besig om sy kleinhandelondernemings, wat sy vulstasies huisves, van die hand te sit.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens verder oor die Khampepe-verslag oor die brand in Marshalltown wat verlede jaar 76 lewens geëis het. Volgens kenners is eise teen die Johannesburg-metro en sy agentskappe nie uitgesluit nie. Strafregtelike vervolging kan ook ingestel word.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n reddingspoging van ‘n twee meter lange waterlikkewaan in Centurion.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die DA se nuwe televisie-advertensie waarin die Suid-Afrikaanse vlag onder ‘n voortgesette ANC-bewind verbrand word, is deur die regerende party gekritiseer.
En tweedens word berig oor die Konstitusionele Hof se beslissing teen die uitbetaling van twee-miljard-rand aan 25 Zimbabwiese boere.
# Sowetan:
Berig die familie van Fisiwe Msane-Sibiya en haar 14-jarige dogter Lungelo is besig om geld in te samel om hulle te begrawe nadat hulle na bewering deur Fisiwe se man, Mandla Sibiya met ‘n mes doogesteek is.
# En The Citizen:
Skryf die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa sê die onderbreking in beurtkrag is nie ‘n verkiesingsfoefie van die ANC nie. Dit word tegeskryf aan die voortdurende toewyding van Eskom en laer aanvraag.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig Vrystaatse boere is woedend oor die moorde op Christo en Christa Morrison van Glen buite Bloemfontein. Van die boere in die omgewing sê hulle vrees vir hul lewens.
En tweedens skryf die koerant oor die halfgeboude woonstelblok in George wat ineengestort het. Twee mense is dood en nog 22 is uit die puin gered. Die vermoede bestaan tans dat die kelderverdieping se dak ingegee het en dit het die hele gebou laat intuimel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die woonstelblok wat ineengestort het. Die koerant berig oor die reddingspoging van die werkers wat vasgekeer was onder die puin.
En tweedens is daar ‘n berig oor die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, Blade Nzimande se onsteltenis omdat die senaat van die Universiteit Stellenbosch nie ‘n resolusie oor die Israelse/Palestynse-konflik aanvaar het nie.
# En Cape Times:
Skryf ook oor die ineenstorting van die gebou.
En tweedens het die koerant dieselfde berig as The Star en Pretoria News oor die Konstitusionele Hof se beslissing teen die Zimbabwiese boere.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ook oor die George-gebou.
En tweedens skryf die koerant sowat 57-duisend leerders verlaat jaarliks die Oos-Kaapse onderwysstelsel en voltooi nie hul skoolloopbaan nie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ‘n groep ontevrede lede van die MK-party is van plan om op te ruk na oudpresident Jacob Zuma se Nkandla-landgoed en die huis te beset.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die 18-jarige Mervyn Beukes en 19-jarige Elias Namwandi is aangekla van die moord op Christof Fredericks wat as ’n vrou geïdentifiseer het.
En tweedens skryf die koerant ’n bykomende 1,8-miljoen gesondheidswerkers is nodig om teen 2030 universele gesondheidsdekking op die Afrika-vasteland moontlik te maak.