Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Anglo American is onder druk om steeds sy bates te ontbondel al sou die BHP se aanbod nie slaag nie. Anglo sê hy gaan sy portefeulje vereenvoudig ná ‘n daling van 94-persent in wins in sy diamant- en nikkelbedrywighede.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig kuberafpersers het verlede jaar gemiddeld 17,9-miljoen-rand gekry van Suid-Afrikaanse maatskappye wat aangeval en afgepers is, en wat die losprys betaal het. Altesaam 330 Suid-Afrikaanse maatskappye het aan die internasionale peiling deelgeneem.
Tweedens skryf die koerant spykerlokvalle op hoofroetes in Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes neem toe en sulke voorvalle gebeur veral tussen agtuur saans en vieruur soggens op Donderdae, Vrydae en Saterdae.
En laastens is daar nuus oor die 30-jarige kragman Nicolaas du Preez van Potchefstroom, wat in Ierland deelgeneem het aan die Advanced Barbell Systems-kampioenskap en tweede geëindig het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf Cosatu het sy steun aan die ANC toegesê in die komende verkiesing.
En tweedens berig die koerant daar is steeds kaartjies beskikbaar vir die Jazz-fees in Kaapstad.
# Sowetan:
Berig die helfte van Johannesburg sit sonder krag nadat kabeldiewe in die tonnels onder die stad toegeslaan en daar ‘n brand uitgebreek het.
# En The Citizen:
Skryf oor die vernaamste redes hoekom politieke partye steun verloor.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met die kuberaanvalle op Suid-Afrikaanse maatskappye.
En tweedens skryf die koerant oor die sesjarige Helen Seyfert wat haar oupa se reuse-herefordbul, Oshkosh by die Bloemskou hanteer het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
En tweedens word berig kamoefleerdrag en mombakkies wat soos leeus lyk gaan deur die eko-veldwagters in Pringlebaai gebruik word om die bobbejane in toom te hou.
# En Cape Times:
Berig president Cyril Ramaphosa het gewaarsku die ANC se tyd is nog lank nie verby nie.
En skryf ook oor die Jazz-fees.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n sakeman van Gqeberha, Colin “Junior” Kannemeyer is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op sy vervreemde vrou, die eiendomsagent, Cheryl Kannemeyer.
En tweedens skryf die koerant die stut van die Griekwas-rugbyspan, Kudzwai Dube staan tereg op verskeie aanklagte ná ‘n messtekery by ‘n drankwinkel in Kariega.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf eThekwini gaan nog 100 watertenkwaens aankoop om te help om die nood te verlig.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Wentzel Maasdorp is in hegtenis geneem vir die moord op Delia Weimers-Maasdorp in Windhoek. Hy is die neef van haar eksman.
En tweedens skryf die koerant die Namibiese Private Praktisynsforum wil lede van mediese fondse in mededingende verenigings onder leiding van gesondheidswerkers organiseer.