Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 April 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya sê die verwerping van ‘n bod deur BHP van Australië om met die mynreus Anglo American saam te smelt, is nie ‘n aanduiding dat Suid-Afrikaanse beleggers vyandiggesind is nie.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die lewenslange tronkstraf wat die 24-jarige Rochelle Botha en haar gewese verloofde die 37-jarige Stefan van Niekerk ontvang het vir die moord op Botha se dogter, die tweejarige Chevonne Rusch.
En tweedens skryf die koerant oor die F1-renjaer, Valtteri Bottas en sy vriendin, die Olimpiese fietsryer Tiffany Cromwell, wat aan ‘n fietswedren in die Swartberg deelgeneem het. Cromwell het die vroue-afdeling gewen.
# The Star en Pretoria News:
Skryf landdrosse oorweeg om te staak oor salarisverhogings.
En berig verder oor die program van die Jazz-fees in Kaapstad.
# Sowetan:
Berig oor ‘n Sassa-kantoor in Mpumalanga wat na bewering deur ‘n toordokter getoor is. Daar is naalde op die stoele geplaas en tradisionele medisyne gestrooi.
# En The Citizen:
Skryf met presies ‘n maand voordat Suid-Afrika stembus toe gaan, lyk die prentjie vir die ANC somber met twee uit drie kiesers wat glo die land is op die verkeerde pad. Die koerant skryf die meeste ontleders stem saam met die meningsopnames oor die ANC se steun wat tot onder 50-persent terugsak.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die 71-jarige Augusta du Plessis en haar hondjie Jessie wat ternouernood aan die dood ontkom het toe haar motor met ‘n trein gebots het.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n voormalige werknemer van die koerant, Petro Jordaan wat by die Bloemskou uitgeblink het met haar gebottelde produkte.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Skryf eerstens oor die Britse atleet en filmmaker, James Norbury wat vir twee uur in ‘n brand op Tafelberg vasgekeer was.
Dan word berig oor die klein Hunter André wat vir Handré en Marise Pollard gebore is.
En laastens is daar ‘n storie oor Galena die kat van Utah wat per ongeluk in ‘n Amazon-pakkie na ‘n ander staat gestuur is.
# En Cape Times:
Skryf ook oor Norbury wat die reddingspanne wat hom van Tafelberg gebring het, geloof het.
En berig oor die ekonomiese inspuiting wat die Jazz-fees vir die Kaap bied.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaaise GOOD-raadslid, Lawrence Troon is beveel om 130-duisend-rand te betaal vir laster teen die EFF-raadslid, Khanya Ngqisha.
En tweedens skryf die koerant die Oos-Kaap kan uitsien na ‘n belegging van 100-miljoen-rand in die daggabedryf.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die inwoners van eThekwini sê hulle wil nie meer na lang toesprake luister nie, hulle soek ‘n aksieplan om die stad reg te ruk.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die moordenaar, Ernst Lichtenstrasser is tot 66 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moord op twee direkteure van die Namibiese Instituut vir Mynbou en Tegnologie.
En tweedens skryf die koerant die Namibiese Nywerheidsontwikkelingsagentskap se projekte is besig om in duie te stort as gevolg van vandalisme en diefstal.