Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 April 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die Australiese mynreus BHP se voorgestelde oorname van Anglo American ten bedrae van 743-miljard-rand is die mynbedryf se grootste samesmelting in meer as ‘n dekade. Die koerant skryf dié transaksie kan ‘n bodoorlog ontketen vir Anglo se koperbates.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf terwyl Suid-Afrika drie dekades van demokrasie vier, praat die sogenaamde vrygeborenes en diegene wat in 1994 gestem het van verpletterde drome en valse beloftes.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die baasbrein agter Mirror Trading International, die 40-jarige Johann Steynberg is in Brasilië aan ’n hartaanval dood. MTI word beskryf as een van die grootste kriptogeld-bedrogskemas ter wêreld.
En tweedens skryf die koerant oor Christopher de Wit van Randburg wat 100-duisend-rand gewen het toe hy in die halfeindstryd van die T20-uitdaagreeks tussen die Lions en die Titans op Wanderers die bal met een hand gevang het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oudpresident Thabo Mbeki het onderneem om die ANC te ondersteun.
En berig die omstrede diamanthandelaar, Louis Liebenberg het heftig gereageer op die beslagleggings by sy huis en kantoor.
# Sowetan:
Het ‘n spesiale uitgawe met ‘n foto-montage en groot letters op die voorblad: “30 YEARS OF FREEDOM”.
# En The Citizen:
Skryf die Wes-Kaapse Referendum Party sê hulle is nie van plan om die provinsie in ‘n Orania te omskep nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig een van die beskuldigdes in die Hartswater-moorde op die Brand-gesin, Tshepo Visagie het in die Hooggeregshof in Kimberley ontken hy was teenwoordig tydens die moorde.
En tweedens skryf die koerant die spanmaats van die 16-jarige Lunathi Mayisela van Grey Kollege gaan hulle sokkerwedstryd die naweek aan hom wy. Hy is ná ‘n lang siekbed in Life Rosepark-hospitaal oorlede.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die dood van Johann Steynberg in Brasilië.
En tweedens berig die koerant die belastingbetaler het sedert 2018 reeds 42-miljoen-rand vir die reiskoste van senior regeringslui opgedok.
# En Cape Times:
Skryf Shamila Batohi het haar termyn as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag verdedig.
En berig een van die Phala Phala-verdagtes het 20 jaar tronkstraf ontvang in ‘n ander saak.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig as ons terugkyk oor dertig jaar van demokrasie kan niemand die misdaad, armoede en die gebruik van emmertoilette miskyk as deel van die voortdurende stryd om gelykheid nie.
En tweedens skryf die koerant geweld het buite Gqeberha se stadsaal uitgebreek toe honderde mense probeer aansoek doen het vir 150 Uitgebreide Openbarewerke-programposte.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf talle haweloses het in eThekwini saamgetrek en daarop aangedring dat hulle ook lewenstoelaes moet ontvang.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig op grond van die aantal geregistreerde kiesers in 2019, word voorspel dat die Verkiesingskommissie van Namibië daagliks gemiddeld sowat 26-duisend mense sal moet registreer binne die 52 dae wat vir die registrasie van kiesers opsy gesit is.
En tweedens skryf die koerant die munisipale raad van Walvisbaai het ’n brief aan RedForce gestuur om dié skuldinvorderaar in kennis te stel dat sy kontrak beëindig is.