Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 April 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Suid-Afrikaanse Reserwebank het in die lig van opgeskorte beurtkrag sy vooruitsig aangepas ten opsigte van die uitwerking van kragonderbrekings op die Suid-Afrikaanse ekonomie.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die hof het ‘n man wat paramedici onder valse voorwendsels in ‘n lokval gelei en beroof het tot 15-jaar tronkstraf gevonnis. Die hof sê Matome Tumi Sephesu het geen berou getoon nie.
Dan skryf die koerant oor die Hoërskool Menlopark se O.16A binnesenter, Dylan Stumke wat ‘n strafdoel van binne sy eie halfgebied oorgeskop het.
En laastens is daar nuus oor wetgewing in die VSA waarvolgens TikTok moontlik verban kan word.
# The Star en Pretoria News:
Skryf advokaat Thulani Mngomezulu wat vir die verdediging optree in die Senzo Meyiwa-moordsaak sê hy vrees vir sy lewe nadat twee vreemde mans by sy huis opgedaag het.
En berig daar is ‘n beroep gedoen dat alle staatsgeboue ondersoek moet word vir gebreke.
# Sowetan:
Berig ook oor advokaat Mngomezulu wat nou polisiebeskerming ontvang en skryf die lasbrief wat vir Meyiwa se vriendin, die sanger Kelly Khumalo uitgereik is, is nooit uitgevoer nie, omdat dit nie onderteken is nie.
# En The Citizen:
Skryf dit is onduidelik wie die 25 mense was wat gister die uitvoering van ‘n lasbrief vir minagting van die hof gekeer het vir die stadsbestuurder van Johannesburg, Floyd Brink.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die balju wat gister op luukse goedere in die omstrede diamanthandelaar, Louis Liebenberg se huis in Durbanville in Kaapstad beslag gelê het. Daar is terselfdertyd ook op sy kantoor in Kemptonpark toegeslaan.
Dan skryf die koerant oor die Shimlas se losskakel, Jandré Nel wat in dieselfde week die Varsitybeker gewen het, sy graad behaal het en aangewys is as speler van die wedstryd.
En laastens word berig die ouers van die 14-jarige Zikhona Ngalo wat selfdood gepleeg het, het drie dae na haar dood ‘n babaseun ryker geword.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die vermeende minnares van wyle Markus Jooste van Steinhoff, Berdine Odendaal se huis ter waarde van 18-miljoen-rand en sowat 42-miljoen-rand in bankrekenings is verbeurd verklaar aan die staat.
En tweedens skryf die koerant oor die herrie wat losgebreek het nadat ‘n transgender man in die vrouesauna van die Virgin Active in Claremont toegelaat is.
# En Cape Times:
Skryf die gemeenskap is woedend nadat ‘n kleuter vroeër in ‘n puttoilet by ‘n kleuterskool verdrink het.
En berig die voormalige burgemeester van Beaufort-Wes, Truman Prince ondersteun Mmusi Maimane se Build One South Africa.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die liggaam van ‘n jikeleza-taxibestuurder wat vroeër die maand vermis geraak het, is in Booysenspark gevind.
En skryf die aantreklike polisieman wie se selfie opslae gemaak het, is nou glo in die moeilikheid by die Polisiediens.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die ANC en EFF is skerp gekritiseer oor Verulam se waterprobleme tydens ‘n gemeenskapsvergadering in die stadsaal.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibië Internasionale Energieberaad is deur sowat 800 afgevaardigdes van oraloor die wêreld bygewoon.
En skryf minstens 12 witrenosters is reeds na die VSA uitgevoer.