Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 April 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die voortdurende onsekerheid oor wanneer inflasie na die Rserwebank se teiken sal terugkeer en wêreldwye inflasiegroei het bygedra tot verwagtinge dat Suid-Afrika se uitleenkoers onveranderd kan bly in 2024.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig hoewel temperature landswyd teen die naweek sal begin afneem, voorspel die Weerdiens ‘n warm winter vir die land.
En tweedens skryf die koerant oor die Shimlas se losskakel, Ethan Wentzel wie se skopskoen die span die Varsitybeker laat wen het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ingevolge ‘n nuwe meningsopname is president Cyril Ramaphosa se presidentskap as ‘n ramp uitgewys.
En berig tweedens oor die lekkasie van inligting uit die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee.
# En Sowetan:
Het vandag ‘n reusefoto van Mandla Sibiya op sy voorblad. Hy word deur die polisie gesoek nadat hy na bewering sy vrou vermoor het en sy kinders met messe gesteek het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die omstrede sakeman Edwin Sodi se bedrieglike tenders vir die staat en die DA wat daarop aandring dat hy op ‘n swartlys geplaas moet word.
En tweedens skryf die koerant die Shimlas sal enigiets doen om hul afrigter, André Tredoux te behou.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei vandag met die inhoud van wyle Markus Jooste van Steinhoff se testament. Sy eggenote Ingrid erf alles terwyl sy vermeende minnares Berdine Odendaal nie in die testament genoem word nie.
Dan is daar nuus oor ‘n biblioteekboek van die Hoërskool DF Malan in Bellville wat ná 42 jaar terugbesorg is.
En laastens skryf die koerant oor ‘n Belgiese man wie se maag alkohol vervaardig. Hy is vrygespreek van dronkbestuur.
# En Cape Times:
Skryf soos The Star en Pretoria News oor Ramaphosa se rampspoedige presidentskap.
En berig die Wes-Kaapse Departement van Onderwys word gedagvaar oor leerders wat steeds nie by skole geplaas is nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig KwaNobuhle se elektrisiteitsprobleme sal na verwagting voortduur tensy die munisipaliteit ’n nuwe substasie bou. Daar is egter nie fondse beskikbaar nie.
En tweedens skryf die koerant die boeregemeenskap van Krakeelrivier het self ingespring en hul eie geld gebruik om slaggate reg te maak en verkeerstekens op te rig.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die DA het betoog teen die polisie in Verulam wat na bewering deur ‘n dwelmbaas beheer word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig bykans vyf-duisend droogtehulpeise is reeds by die regering ingedien en verwerk.
En skryf die parool van die sogenaamde Swakopmund-slagter, Thomas Florin is van die hand gewys. Hy het in 1998 sy vrou vermoor.