Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 April 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die ANC is van plan om te appelleer teen die beslissing van die Hooggeregshof in Durban dat die uMkhonto weSizwe Party sy naam en embleem kan behou. Die ANC sê dit gaan die kiesers verwar.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ’n onderwyser aan die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark wat oor drie maande sou trou, Gerbrandt Ferreira is saam met sy ma Magda in ’n botsing dood toe ’n vragmotor hul voertuig getref het.
En tweedens publiseer die koerant die eerste foto’s van Oscar Pistorius sedert hy vrygelaat is – die foto’s is ‘n Media24-eksklusief.
# The Star en Pretoria News:
Skryf Johannesburg is die rykste stad in Afrika.
En berig oor die Kaapstadse Jazz-fees.
# En Sowetan:
Berig die sekretaris-generaal van Cosatu, Zwelinzima Vavi is onkant betrap toe dit aan die lig gekom het hy het sy eredoktorsgraad ook by die omstrede Trinity International Bible University ontvang.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met Oscar Pistorius se eerste foto’s in byna agt jaar. Die koerant berig hy het effens ouer geword, maar lyk goed.
En tweedens is daar ‘n berig oor die Shimlas wat die Varsitybeker gewen het toe hulle met 45-42 oor die Ikeys geseëvier het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met Oscar se foto’s en skryf hy lyk soos iemand wat swaar gekry het.
En tweedens berig die koerant oor Christelle Barnard van Brakpan wie se twee African Grey-papegaaie saam met haar motor gekaap is.
# En Cape Times:
Berig die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula sê die oorlog vir die MK-embleem en naam is vér van verby.
En skryf oor die afsterwe van die voormalige PAC-leier, die 93-jarige doktor Motsoko Pheko.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig inwoners van Nelson Mandelabaai wat in die omgewing van onwettige elektrisiteitsverbindings woon, vrees vir hul lewens nadat vier mense insluitend ‘n driejarige kind die naweek doodgeskok is.
En tweedens skryf die koerant ’n munisipale amptenaar is afgedank weens oneerlikheid en growwe nalatigheid nadat hy probeer het om vier motorbande te steel.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die hofbeslissing oor die MK-party se naam en embleem is ‘n groot terugslag vir die ANC.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Landbou, Water en Grondhervorming het die regering versoek om ‘n nasionale droogtenoodtoestand in die land af te kondig.
En tweedens skryf die koerant Lüderitz se uitsig oor Shark-eiland kan moontlik binnekort iets van die verlede wees as gevolg van ‘n nuwe hawe-ontwikkeling in die dorp.