Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 April 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die metaalwerkersunie, NUMSA het sy lede in die staalsektor op gereedheidsgrondslag geplaas terwyl hy met die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedryf oor salarisverhogings onderhandel. Die vakbond is die grootste in die land met meer as 450-duisend lede.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die samesprekings wat gevoer is oor ‘n kulturele verdrag vir Afrikaner-organisasies. Daar word vandag ‘n verdere vergadering by die Voortrekkermonument gehou. Die Presidensie het in reaksie gesê hy verstaan nie die nodigheid vir die groep nie aangesien kulturele regte in die Grondwet beskerm word.
Tweedens skryf die koerant die Leeus-rugbyspan het ‘n beroep op die publiek gedoen om hulle komende Saterdag in hul kragmeting teen Munster te ondersteun. Die Leeus het die afgelope naweek die Ierse span Leinster met 44-12 getroef.
En laastens is daar ‘n brokkie oor die eerste vier-duisend-500 uit tien-duisend polisierekrute wat vandag aanmeld.
# The Star en Pretoria News:
Berig die polisie in Tshwane het ‘n soektog van stapel gestuur ná die moord op die gewilde komediant en platejoggie, Peter Mabuse.
En skryf tweedens die voormalige speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula se versoek om finansiële staatsbystand vir regskoste is volgens kenners onwettig.
# Sowetan:
Berig politici doen enigiets om stemme te werf vir die verkiesing. Dit wissel van hare vleg, wasgoed was, tot kos vir die gemeenskap aandra.
# En The Citizen:
Skryf daar word wyd bespiegel oor wie die ANC as koalisievennoot sal kies indien hy nie ‘n meerderheid verkry in die verkiesing nie. Die moontlikheid bestaan dat hy die EFF sal nader, maar daar is ontleders wat meen die DA is nie uitgesluit nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die voorgestelde Afrikaner-organisasie.
En tweedens skryf die koerant oor die selfdood van die 16-jarige Riané Coetzee van die Hoërskool Bloemfontein. Sy het ‘n oordosis pille geneem.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die nuwe Afrikaner-organisasie.
En skryf ‘n vliegtuig van FlySafair van OR Tambo na Kaapstad moes omdraai weens skade aan ‘n landingswiel.
# En Cape Times:
Skryf president Cyril Ramaphosa sê die ANC is die enigste partry waarmee rekening gehou moet word in KwaZulu-Natal.
En skryf daar is meer as 30-duisend ongevulde onderwysposte.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ’n man van Kariega is in hegtenis geneem omdat hy na bewering sy eie ontvoering beplan en uitgevoer het. Xolile Ben Douw het op 16 April verdwyn en sy familie laat glo dat hy ontvoer is. Hy het selfs ‘n losprys van 60-duisend-rand geëis.
En tweedens skryf die koerant chaos het uitgebreek ná ‘n woordewisseling tussen die adjunkpresident van OP Rugby, Roger Serfontein en ‘n afgevaardigde van Young Collegians, Dan Ngcape. Bestuurslede het ‘n beroep gedoen op ‘n vervroegde bestuursverkiesing.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf terwyl politici stemme werf in KwaZulu-Natal val die oproep van die gemeenskap oor HOP-huise wat inmekaarstort op dowe ore.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n Noorweegse en Namibiese maatskappy beplan om van drie liggings in die oop see, noordwes van Lüderitz, hoëgehalte- Atlantiese salm aan uitvoer- en plaaslike markte te verskaf.
En tweedens skryf die koerant die vrou van die boer wat verlede week die opgeleide spoorsnyhond Troy op sy plaas geskiet het, het hul kant van die saak per WhatsApp-boodskap gestel.