Nuus 08:00
BULLETIN 18 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC stel ‘n streng kandidaatkeuringsproses vir 2026 bekend
# Minister Gwarube gaan optree teen kontrakteurs wat nie skoolprojekte voltooi nie
# En die VN-veiligheidsraad keur die VSA-resolusie vir Gaza goed
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het die reëls en riglyne vir die keuringsproses vir kandidate vir volgende jaar se munisipale verkiesing goedgekeur. Die riglyne sit die minimum vereistes uiteen waaraan ANC-lede landwyd moet voldoen om te kwalifiseer vir plek op munisipale rade. Minstens 70-persent van die kandidate moet ervaring op enige regeringsvlak hê. Die ANC-verkiesingskomitee se voorsitter, Kgalema Motlanthe, sê kandidate moet die regte vaardighede, kennis en integriteit hê om gemeenskappe doeltreffend te dien:
# Die omstrede sakeman, Brown Mogotsi, getuig vandag en môre voor die Madlanga-kommissie. Hy word beskuldig dat hy as tussenganger opgetree het tussen die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, en die vermeende misdaadbaas, Vusimuzi “Cat” Matlala. Mogotsi het volgens berigte 500-duisend-rand van Matlala ontvang vir vlugte en verblyf vir agt ANC-lede om vanjaar voor die party se 8 Januarie-geleentheid in Kaapstad ‘n fondsinsamelings-dinee by te woon. Volgens berigte het Matlala in ruil daarvoor geklassifiseerde polisie-inligting van Mogotsi ontvang.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê haar departement sal kontrakteurs wat nie skoolinfrastruktuurprojekte voltooi nie, op ʼn swartlys plaas. Sy het gister oorsigbesoeke gebring aan twee skole in die Oos-Kaap wat met infrastruktuurprobleme sukkel. Volgens ʼn verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het byna al die skole wat in die provinsie geëvalueer is beskadigde geboue, puttoilette en geen water- of elektrisiteitsvoorsiening nie. Gwarube sê hulle is daartoe verbind om hierdie probleme te hanteer:
# Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het ʼn resolusie deur Amerika aanvaar, wat ʼn vredesplan vir Gaza en ʼn tydelike internasionale mag in die gebied goedkeur. Dertien lande, insluitend Frankryk, die Verenigde Koninkryk en Somalië, het die resolusie gesteun terwyl Rusland en China buite stemming gebly het. Die resolusie se doel is om internasionale legitimiteit te verleen aan president Donald Trump van Amerika se 20-punt Gaza-plan. Amerika se ambassadeur by die VN, Mike Waltz, sê die resolusie is ʼn belangrike stap na bestendigheid in Gaza:
# Tennis: Frankryk en België pak mekaar vandag in die eerste kwarteindstryd van die Davisbeker-eindtoernooi in Bologna, Italië. Die gasheer en tweemalige verdedigende kampioen speel môre teen Oostenryk, en die ander twee kwarteindstryde word Donderdag beslis. Spanje, aangevoer deur die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, kom te staan teen die Tsjeggiese Republiek, en Argentinië teen Duitsland, wat spog met die wêreld-nommer-drie, Alexander Zverev. Die halfeindstryde word Vrydag en Saterdag gespeel en die eindstryd Sondag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-12-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….