Nuus 9:00
BULLETIN 27 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-partyleier Jacob Zuma lewer die Solomon Mahlangu-lesing in Mamelodi as deel van Vryheidsdagvieringe
# Minister Lamola verwelkom Tanzanië se opheffing van die verbod op Suid-Afrikaanse landbouprodukte
# En, Rome en die wêreld roep Pous Franciskus vaarwel toe met reuse seremonie en ‘n nederige begrafnis
# Die president van die MK Party, Jacob Zuma sal vandag partylede en ondersteuners in Mamelodi toespreek wanneer hy die Solomon Mahlangu-lesing lewer. Sedert die ontstaan van die uMkhonto Wesizwe party op 16 Desember 2023, het die party homself onder andere toegewy aan die oorvertelling, vanuit die perspektief van swart mense, van die land se geskiedenis. Die party sê dit is belangrik, as ‘n egte voetsool-beweging van veral die swart mense van Suid-Afrika, om die feite reg te stel oor ‘n paar baie belangrike historiese gebeurtenisse in die bevrydingstryd van die mense.
# Die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola het Tanzanië se besluit om sy invoerverbod op Suid-Afrikaanse landbouprodukte op te hef, met ope arms verwelkom. Die woordvoerder van die ministerie, Chrispin Phiri, sê dié besluit volg op konstruktiewe diplomatieke betrokkenheid tussen die minister en sy eweknie en hy het die volgehoue krag van bilaterale verhoudings beklemtoon. Hy sê die ministers het ooreengekom om alle uitstaande kwessies op te los:
# Die DA sê hy het ‘n ondersteunende beëdigde verklaring by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien oor die BTW-verhoging. Die party sê dis nodig omdat die BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte ten spyte van die skrapping steeds op 1 Mei in werking tree, tensy die hof ʼn spesifieke bevel uitreik om dit te keer. Die DA sê die hof moet ʼn spesifieke bevel uitreik om die verhoging te stuit op grond daarvan dat die fiskale raamwerk onregmatig in die Parlement aanvaar is.
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane eis dringende ingryping by wat hy beskou as die toenemende krisis wat volhoubare watervoorsiening in die metro bedreig. Anne-Marie Sparg van die VF Plus sê die metro moet Rand Water betaal vir elke druppel water wat hy gebruik, en die gelisensieerde waterkwota word gereeld oorskry. Sy sê ernstige redes tot kommer is grootskaalse onwettige verbindings, lekplekke en waterdiefstal wat byna ʼn derde van Tshwane se waterverbruik uitmaak:
# Presidente, koninklikes en ‘n menigte roubeklaers het tydens ‘n plegtige begrafnisseremonie, Pous Franciskus vaarwel geroep. ‘n Kardinaal het ‘n beroep gedoen om die pous se nalatenskap van sorg vir hawelose mense, die onderdruktes en die omgewing, lewend te hou. ‘n Geskatte 250-duisend mense het die seremonie bygewoon. Amerikaanse president Donald Trump, wat met die pous oor hierdie kwessies gebots het, het saam met buitelandse hoogwaardigheidsbekleërs aan die kant van Franciskus se kis in Sint-Pietersplein gesit. Die pous wat die kerk 12 jaar gelei het, is Maandag in die ouderdom van 88 na ‘n beroerte oorlede.
# En, tennis: Die ongekeurde Italianer, Matteo Arnaldi het gister die vierde gekeurde Novak Djokovic by die Madrid Open oorweldig. Arnaldi het ‘n geïnspireerde vertoning gelewer teen sy held en die driemalige kampioen – wat nie op sy beste was nie – met 6-3, 6-4 in die tweede ronde uitgeskakel. Dit is Djokovic se derde agtereenvolgende nederlaag nadat hy in die Miami-eindstryd teen Jakub Mensik verloor het, en daarna in sy eerste wedstryd in Monte Carlo-Ope deur Alejandro uitgeskakel is. Arnaldi kom volgende teen Damir Džumhur van Bosnië te staan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….