Nuus 9:00
BULLETIN 20 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa oorweeg Afrikaner-kandidate vir VSA-ambassadeurspos
# Brand by Tembisa-hospitaal onder beheer en geen beserings is aangemeld nie
# en Eskom sê brandstofbesteding aan die oopsiklus-gasturbinevloot sal mettertyd afneem
# President Cyril Ramaphosa oorweeg glo vier wit Afrikaners as moontlike opvolgers vir die voormalige Amerikaanse ambassadeur, Ebrahim Rasool. Volgens die Sunday Times is Roelf Meyer, Ramaphosa se voormalige Konvensie vir ‘n Demokratiese Suid-Afrika-vennoot, ook op die kortlys saam met Andries Nel, Gerhard Koornhof en Marthinus van Schalkwyk. Luidens die berig sê lede in die binnekringe van die ANC die aanstelling van ‘n wit Afrikaner sal dalk Trump se bewerings van Afrikaner-vervolging teenwerk. Voorsitter van MTN, Mcebisi Jonas, bly die president se keuse as spesiale gesant, ondanks kritiek oor Jonas se vorige aanvalle op Donald Trump.
# Die Gautengse Departement van Gesondheid- en Welsyn het bevestig dat ‘n brand in Tembisa-hospitaal se Ongevalle- en Noodafdeling onder beheer is. Woordvoerder Lesiba Malotana sê alle pasiënte is veilig ontruim, en geen beserings of sterftes is aangemeld nie. Die oorsaak van die brand word ondersoek. Die hospitaal was in onlangse tye in die kollig oor veiligheidstandaarde. Malotana het die publiek verseker dat all pasiënte veilig is en die nodige sorg ontvang:
# Eskom sê hy verwag sy besteding aan brandstof vir die oopsiklus-gasturbinevloot sal verminder namate die instandhoudingswerk begin afneem. Die kragvoorsiener het van 1 tot 17 April ongeveer 1,67-miljard-rand aan brandstof vir die vloot bestee, wat 284,4 gigawatt-ure opwek. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dit is meer as die 109,4 gigawatt-ure in dieselfde tydperk verlede jaar:
# Rugby: Die Leeus se Verenigde Rugbykampioenskap-drome het ‘n ernstige knou gekry met ‘n 15-10 tuisnederlaag teen Benetton. ‘n Drie in die tweede helfte deur Asenathi Ntlabakanye vir die Leeus het die telling gelykop gemaak, maar ‘n laat drie deur Ignacio Mendy vir Benetton het die besoekers se oorwinning verseker. Dit is die Leeus se derde agtereenvolgende nederlaag, wat hulle in die 14de plek op die punteleer plaas. Hoofafrigter Ivan van Rooyen sê individuele foute het hulle op deurslaggewende oomblikke belemmer. Hy het beklemtoon dat die span dadelik moet hergroepeer om hul uitspeelkanse lewendig te hou.
# Rugby: Die Bulle het gister geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaanse span te word wat Munster in die Verenigde Rugbykampioenskap op hul tuisveld klop. Afrigter Jake White sê dit was sy span se begeerte om te wen wat hulle die 16-13 oorwinning besorg het. In die laaste minute van die wedstryd moes die Bulle aanhoudende aanvalle van Munster afweer voordat hulle uiteindelik ‘n hanteerfout van die tuisspan afgedwing het. Die Bulle, derde op die punteleer, kom Vrydag in Glasgow teen Glasgow Warriors te staan wat in die tweede plek is.
# En laastens, die International Pentecost Holiness Church gaan vandag ‘n geskiedkundige massa-troue in Heidelberg, Gauteng aanbied. Meer as een-duisend-500 paartjies sal in The Dome, die grootste gemeentelike bymekaarkomplek in die Suidelike Halfrond, trou. Hierdie gebeurtenis toon ‘n beduidende toename nadat 400 paartjies in 2023 getroud is, met baie bruidegomme wat met meer as een vrou sal trou, ‘n tradisie wat die kerk omhels.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….