Nuus 09:00
BULLETIN 11 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Regering van nasionale eenheid kan nie net op president Ramaphosa staatmaak nie
# Die UDM het met die ANC vergader oor die regering van nasionale eenheid
# En die DA in Johannesburg vra deursigtigheid en aanspreeklikheid oor ladingvermindering
# ‘n Politieke ontleder, Mpumelelo Mkhabela, sê ‘n ooreenkoms vir ‘n regering van nasionale eenheid wat slegs op President Cyril Ramaphosa berus, sal onvolhoubaar wees. Die ANC het só ‘n regering voorgestel nadat hy nie ‘n algehele meerderheid in die Parlement kon verseker nie. Mkhabela sê in ‘n rubriek vir News24 die gewone binnegevegte in die ANC sal voortduur in die aanloop tot sy verkiesingskonferensie in 2027. Hy sê dit sal die party verder verswak en dit moontlik moeilik maak vir Ramaphosa om die regering te beheer.
# Die UDM sê intussen een van die basiese beginsels van ‘n koalisieregering is dat dit die wil van die kiesers verteenwoordig. Die party het Hoofregter Raymond Zondo gevra om ‘n vergadering van alle partye te reël wat in die Parlement verteenwoordig word. Dit volg ná die ANC se aankondiging dat hy ‘n regering van nasionale eenheid wil vorm. Die UDM se sekretaris-generaal, Yongama Zigede, sê hulle het met die ANC vergader waar hulle die vorming van ‘n regering van nasionale eenheid bespreek het:
# Die DA in Johannesburg doen ‘n beroep op die burgemeester, Kabelo Gwamanda en City Power om openlik te wees oor wat se daaglikse onderhoud gedoen word om die aantal substasies wat buite werking is, te verminder. City Power het ladingsvermindering in hoëdigtheidsgebiede ingestel om die druk op die netwerk te verlaag en ‘n ineenstorting te voorkom. Nicole van Dyk van die DA sê inwoners betaal nou 12,72-persent meer vir krag in die metro maar word gevra om minder krag te gebruik:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, het die regering se voortgesette steun vir Palestina in wêreldforums herbevestig. Op die vergadering van BRICS-ministers van Buitelandse Sake in Nizhny Novgorod in Rusland het Pandor weer ‘n tweestaat-oplossing voorgestaan, met Oos-Jerusalem as Palestina se hoofstad. Sy eis ook ‘n permanente skietstilstand in die Midde-Ooste. Pandor veroordeel die bombardering van Gaza en die gevolglike humanitêre krisis:
# Motorsport: Sergio Perez van Red Bull is met drie wegspringplekke gestraf vir volgende naweek se Spaanse Grand Prix. Die Meksikaan het in die 53ste rondte in die Kanadese Grand Prix van baan getol en die agterste vlerk van sy renmotor beskadig. Hy het daarna na die kuipe gery waar sy motor onttrek is. Die baanregters het beslis dat die span beboet word en Perez is ook gestraf vir onsportiewe gedrag en vir die veiligheidsimplikasies van die voorval.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-855-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-302-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….