Nuus 9:00
BULLETIN 12 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Geordin Hill-Lewis sê sy leierskap is gegrond op aanspreeklikheid
# ‘n Vragmotorbestuurder is by Beitbrug in hegtenis geneem met plofstof ter waarde van R2,8-miljoen
# En, die VSA-Iran vredesonderhandelinge eindig sonder ‘n skikking, Vance verlaat Pakistan
# Geordin Hill-Lewis, die kandidaat vir leierskap van die DA, sê hy wil leierskap bied wat gegrond is in diens en aanspreeklikheid, en wat verstaan dat niemand in die party groter is as die saak wat hulle dien nie. Hill-Lewis, die burgemeester van Kaapstad, word beskou as die voorloper om John Steenhuisen op te volg. Hy het gister tydens ‘n toespraak by die DA se verkiesingskongres in Midrand, Gauteng, aan afgevaardigdes gesê hulle taak is groter as om die party se winste te verdedig:
Ook by die kongres sê Sibusiso Dyonase as hy as die nuwe DA-leier verkies word, sal hy die party se optrede en besluite in lyn bring met sy kernwaardes. Hy het gister afgevaardigdes by die party se verkiesingskongres in Midrand, Gauteng, toegespreek. Dyonase, wat die koukusleier in die Sedibeng-munisipaliteit is, het tot die stryd toegetree wat wyd verwag word om die voorloper, die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, te bevoordeel. Dyonase sê dit is nou die tyd om ‘n leier te kies wat die party vorentoe kan neem:
# Die Valke het ‘n vragmotorbestuurder in hegtenis geneem en beslag gelê op plofstof ter waarde van byna 2,8-miljoen-rand in Musina naby die Beitbrug-grenspos. Owerhede het tydens ’n gesamentlike operasie deur ‘n multidissiplinêre span plofpatrone, ontstekers en lonte ontdek. Die woordvoerder van die Valke, Avela Fumba sê die 42-jarige verdagte het probeer vlug, maar is dadelik in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting môre in die Musina-distrikslanddroshof verskyn op aanklagte van onder meer die besit van plofstof.
# Minister van Landbou, John Steenhuisen, het die suksesvolle wysiging van kouebehandelingsvereistes vir Suid-Afrikaanse sitrusuitvoere na China verwelkom, wat handel uitbrei en bilaterale bande versterk. Die opgedateerde protokolle sal na verwagting uitvoerdoeltreffendheid verbeter, koste vir produsente verminder en verseker dat hoër gehalte vrugte Chinese verbruikers bereik. Hy sê China bly ‘n sleutelmark, met sitrusuitvoere wat sterk groeipotensiaal toon wat werkgeleenthede, boere en langtermyn sektoruitbreiding ondersteun:
# Die VSA en Iran kon nie daarin geslaag om ‘n ooreenkoms te bereik om die oorlog te beëindig nie. Die lang gesprekke is Sondag in Islamabad, Pakistan, afgesluit, wat die brose wapenstilstand in gevaar stel. Die partye het mekaar blameer vir die mislukking van die 21-uur lange onderhandelinge om gevegte te beëindig waarin duisende mense dood is en wêreldwye oliepryse die hoogte laat inskiet het. Die Amerikaanse vise-president, JD Vance sê Iran het gekies om nie Amerikaanse voorwaardes te aanvaar nie, insluitend om nie kernwapens te bou nie. Iran se Tasnim-nuusagentskap sê buitensporige Amerikaanse eise het ‘n ooreenkoms belemmer.
# En laastens, Gholf: ‘n Dramatiese laaste rondte wag vandag by die 90ste Augusta Meesters-toernooi. Rory McIlroy en Cameron Young is saam voor met 11 onder baansyfer. McIlroy, wat ‘n geskiedkundige voorsprong van ses houe gehad het, het in die derde ronde gesukkel en het een oor die baansyfer, aangeteken, terwyl Young ingehaal het met 65, sewe onder. Hulle word gevolg deur Sam Burns op tien onder, en Shane Lowry op nege onder die baansyfer. Die enigste Suid-Afrikaner wat nog vandag speel, is die 2011-kampioen Charles Schwartzel, wat die eerste twee rondtes vier oor die baansyfer voltooi het. Hy is tans 47ste.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….