Nuus 09:00
BULLETIN 11 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF vra vir ‘n omvattende hersiening van Nersa se tariefbepaling
# Die Gautengse regering skep ‘n interregerings water krisisbevelsentrum
# En minstens nege mense sterf na ‘n skietery by ‘n skool in Kanada
# Die EFF het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika se besluit veroordeel om skerper verhogings in elektrisiteitstariewe vir Eskom goed te keur. Nersa het agtereenvolgende verhogings van 8,76-persent vanjaar, en 8,83-persent volgende jaar goedgekeur. Die aanpassing van sy aanvanklike verhoging van 5-persent is om Eskom te vergoed nadat die energiereguleerder met ‘n vorige prysbepaling ‘n berekeningsfout begaan het. Die EFF eis dat die verhoging van kragtariewe onmiddellik gestaak word en dat Nersa se tariefbepaling en model vir volhoubaarheid fundamenteel hersien word.
# Die vakbondfederasie Cosatu sê hy gaan dringend met die regering in verbinding tree om werkbare oplossings te vind vir die voortdurende krisisse wat dreig om die Suid-Afrikaanse Poskantoor in duie te laat stort. Volgens die Poskantoor se sakereddingspraktisyns sal hulle waarskynlik moet bereken of enige redelike vooruitsigte bestaan om dié staatsinstelling te red. Die woordvoerder van Cosatu, Matthew Parks, sê dit is ook kommerwekkend dat SAPO nog nie die beloofde 3,8-miljard-rand van die Nasionale Tesourie ontvang het nie:
# Die Gautengse regering het ‘n waterkrisisbevelsentrum wat verskeie regeringsvlakke betrek by die provinsiale rampbestuursentrum in Midrand gestig. Die provinsie beleef tans ʼn waterkrisis. Die provinsiale regering se woordvoerder, Elijah Mhlanga, sê die sentrum se doel is om samewerking te versterk, die intydse monitering van stelsels moontlik te maak, gesamentlike besluitneming te verbeter en ʼn enkele bron van gekontroleerde inligting oor die stand van die provinsiale waterstelsel te vestig:
# Minstens nege mense is in ‘n skietery by die Tumbler Ridge Secondary School in Brits-Columbië in Kanada dood. Ses mense is op die toneel doodgeskiet en nog een het onderweg na ‘n hospitaal beswyk. Nog twee liggame is later op ‘n ander toneel gevind, maar die polisie glo die sterftes hou met die skietvoorval verband. Die hoofsuperintendent van die Kanadese Berede Polisie in die noordelike gebied, Ken Floyd, sê nagenoeg 25 mense is in die aanval beseer, maar is buite gevaar:
# Rugby: Kaptein Maro Itoje keer terug na Engeland se opdrafspan vir Saterdag se Sesnasies-kragmeting teen Skotland in Edinburgh. Die 31-jarige speler het verlede naweek in die tweede helfte as plaasvervanger uitgedraf in die 48-7-sege oor Wallis. In die ander verandering maak Jamie George, wat in Itoje se afwesigheid die eerste keer as kaptein opgetree het, plek vir Luke Cowan‑Dickie as haker. Losskakel Fin Smith, wat van ʼn kuitbesering herstel het, is op die bank in Marcus Smith se plek. Engeland wil hul eerste oorwinning in Edinburgh sedert 2020 behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-88-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-850-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-57-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….