Nuus 9:00
BULLETIN 3 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom versterk steeds die sekerheid van sy aanlynverkope
# Menslike Nedersettings het 80-duisend aktes en 15-duisend wooneenhede in sy visier
# En Hamas sê ‘n Gaza-hospitaaldirekteur in ‘n Israelse aanval dood
# Eskom sê hy gaan voort met optrede na die onthulling in sy 2024 finansiële verslag van ‘n forensiese verslag met besonderhede van die skending van sy Aanlyn Verkoopstelsel. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die stelsel is uitgebuit om bedrieglike voorafbetaalde elektrisiteitsbewyse te skep en te versprei. Sy sê dit onthul ernstige swakhede in die fisiese en kubersekerheid-afdelings van die nutsdiens se infrastruktuur vir voorafbetaalde elektrisiteit:
# Die burgerlike beweging Soil of Africa gaan vandag na die hoofkantoor van die Departement van Binnelandse Sake in Pretoria opruk om oplossings en verantwoordbaarheid te eis. Die voorsitter van Soil of Africa, Bongani Ramontja, sê hulle hou die optog sodat die geblokkeerde identiteitsdokumente van 75-duisend mense wat sedert 2017 sonder ID’s in Suid-Afrika woon, uitgereik kan word. Hy sê die stap het gesinne geknak en van basiese regte en dienste ontsê:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, sê haar departement beoog om 80-duisend titelaktes te registreer en te oorhandig en 15-duisend maatskaplike behuisingseenhede te bou. Simelane het ondanks uitdagings kragtens die regulasies van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en begrotingsbeperkings aan die Parlement gesê planne sluit in die verhoging van huurinvordering tot 95-persent, die voltooing van halfklaar projekte en die uitwissing van agt-duisend modderhuise. Sy het gesê dat die departement se begroting van 34-miljard-rand konsentreer op die verskaffing van behuising en klimaatsveerkragtigheid:
# Die direkteur van Gaza se Indonesiese Hospitaal en talle familielede is in ʼn Israelse lugaanval op sy huis in Gaza-stad dood. Die Hamas-beheerde gesondheidsministerie sê dokter Marwan Sultan het ʼn lang loopbaan in medisyne gehad en veroordeel sy dood. Die Israelse weermag sê hy het ʼn “belangrike Hamas-terroris” uitgeskakel en berigte dat onbetrokke burgerlikes geraak is, word ondersoek. Die hospitaal is gesluit na herhaalde Israelse aanvalle en strukturele skade. Volgens die VN is daar geen werkende hospitale in die noorde van Gaza nie.
# Sokker: Die hoofafrigter van Banyana Banyana, Desiree Ellis glo hulle is reg om die verdediging van hulle titel as wenners van die Vroue Afrika Nasiesbeker Maandag teen Ghana in Morokko te begin. Suid-Afrika kom ook in Groep C teen Mali en Tanzanië te staan. Ellis sê om ‘n titel te verdedig is baie moeilik, maar hulle weet dis moontlik. Sy glo dit is belangrik dat elke speler hulle kant moet bring soos wat die geval was in 2022. Ellis sê hulle het die ontwikkeling van belangrike teenstanders bestudeer, en maak staat op taktiese diepte en spangees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61 sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-923-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-351-dollar-59 sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….