Nuus 9:00
BULLETIN 1 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP betreur die sluipmoord op sy adjunk-hoofsweep Khethamabala Sithole
# Fezile Ngubane vrygespreek in Olorato Mongale-moord
# En, Minister Tau sluit ‘n tydelike loteryooreenkoms met Ithuba
# Die Inkatha Vryheidsparty betreur die verlies van sy adjunk-hoofsweep, Khethamabala “Jobe” Sithole, wat gisteraand in Katlehong doodgeskiet is in wat die party ‘n sluipmoord noem. Die 68-jarige het sedert 2010 in die Parlement gedien en was ‘n gerespekteerde leier in die IVP se Nasionale Raad. Die Provinsiale Sekretaris van die IVP, Alco Ngobese, is in dieselfde voorval geskiet en het beserings opgedoen. Die partywoordvoerder, Mkhuleko Hlengwa, doen ‘n beroep op wetstoepassers om die oortreders gou te vervolg. Sithole word onthou as ‘n toegewyde patriot en dienaar van die mense.
# Fezile Ngubane wat vroeër gekoppel is aan die moord op Olorato Mongale is vrygespreek. ‘n Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê Ngubane, ‘n motorwag, was die slagoffer van identiteitsdiefstal. ‘n Verdagte, Philangenkosi Makhanya, het na bewering Ngubane se identiteitskaart gebruik om SIM-kaarte te registreer wat aan die misdaad gekoppel is. Die polisie gaan voort met die soektog na Bongani Mthimkhulu. Mathe het ook bevestig dat die ouers van een van die twee verdagtes vrygelaat is nadat hulle verklarings afgelê het:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het ‘n tydelike12 maande lisensieooreenkoms met Ithuba Holdings bereik om ontwrigtings aan die Nasionale Lotery te voorkom. Die aanstelling, wat vandag van krag is, kom ten spyte van ‘n hofuitspraak wat die stap as ongrondwetlik verklaar het. Tau gaan teen die teen die besluit appelleer en verwys na openbare belang. Kommer is uitgespreek oor die staking van kaartjieverkope en befondsing aan liefdadigheidsorganisasies. Jodi Scholtz van die Nasionale Loterykommissie het die minister se stap verwelkom:
# Die uitvoerende bestuurder van die Toerisme-sakeraad van Suid-Afrika, Tshifhiwa Tshivhengwa, sê lae toerismesyfers in die winter bly ‘n uitdaging in die bedryf. Tshivhengwa sê noorde van die land is ‘n ideale winterbestemming met ‘n matige klimaat en talle kulturele ervarings. Tshivhengwa moedig ondernemings aan om toerisme na die binneland te bevorder deur spesiale pryse, geleenthede en toerisme. Hy sê ondernemings moet hul aanbiedinge oor die kouer maande aanpas om deurlopend toeriste te ontvang.
# En, Tennis: Vir die eerste keer sedert 2003 het al agt topgekeurdes in die vroue-kompetisie na die laaste 16 van die Franse Ope op Roland Garros deurgedring. Coco Gauff het met Marie Bouzkova in twee stelle afgereken en Mirra Andreeva het Yulia Putintsiva ook in twee stelle geklop. Jessica Pegula het die voormalige finalis Marketa Vondrousova in drie stelle geklop terwyl Madison Keys met Sofia Kenin afgereken het. Lois Boisson wat 361ste in die wêreld is het Elsa Jacquemot geklop om die speler te word met laagste wêreldposisie in die laaste 16 in Parys in 40 jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….