Nuus 8:00
BULLETIN 30 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ANC herbevestig sy voorneme om plaaslike regering te herstel, dienste te lewer, en water vir almal te verseker
# Privaatsektor aangemoedig om deel te neem aan die hervorming van die vervoernetwerk
# En rugby: die Bulle looi Zebre in Verenigde Rugbybekerkampioenskap wedstryd
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee-lid, Kgosientsho Ramokgopa, sê die party herbevestig sy onwrikbare verbintenis om die toestand van plaaslike regering te verander en die lewering van basiese dienste, veral toegang tot water en sanitasie, te versnel. Hy het die media op die tweede dag van die ANC se vier-dae lange Nasionale Uitvoerende Komitee (NEC) vergadering in Boksburg, Ekurhuleni meegedeel dat hulle as die regerende party nie die vertroue van die mense as vanselfsprekend beskou nie. Hy het gesê vertroue word verdien deur beslissende optrede, politieke aanspreeklikheid en die herstel van funksionele munisipaliteite:
# Die Padvragvereniging het alle maatskappye wat ‘n derdeparty-operateur kan word, aangemoedig om die onlangs vrygestelde Netwerkverklaring te bestudeer en met die Departement van Vervoer in gesprek te tree om spoorwegbedrywighede weer op ‘n lewensvatbare en doeltreffende grondslag te kry. Die uitvoerende hoof van die vereniging, Gavin Kelly sê daar is baie geleenthede vir padvervoer-operateurs en dat talle veranderings aan die kom is oor die manier waarop vervoer funksioneer, maar die land moet die grondslagbeginsels van die algehele logistieke netwerk aan die gang kry:
# SANParke het gesamentlike optredes van stapel gestuur om veiligheid te verbeter in die Leeukop-, Vlaeberg-, Pipe Track- en Die Glen-gebiede van die Tafelberg Nasionale Park. Dit volg nadat daar ‘n toename was in gewapende rooftogte. Die samewerkingspoging tussen die polisie en die Kampsbaaise stadsverbeteringsdistrik het meer patrollies en intelligensie-geleide ingrypings ingestel om misdaad hok te slaan. SANParke se woordvoerder, JP Louw, raai besoekers aan om in groepe te stap en aandstaptogte te vermy:
# Myanmar se militêre heersers het gister honderde buitelandse reddingspersoneel in die land toegelaat nadat ‘n aardskudding die dood van meer as 1,600 mense veroorsaak het. Dit is die dodelikste natuurlike ramp wat die arm, oorlogsgeteisterde land in baie jare getref het. Vrydag se 7,7 sterkte aardbewing, is van die grootstes wat die Suidoos-Asiatiese land in die afgelope eeu getref het. Dit het te midde van ‘n burgeroorlog gebeur wat die ekonomie verwoes en miljoene mense dakloos gelaat het. In die naburige Thailand, het ‘n wolkekrabber in die hoofstad Bangkok inmekaargetuimel en minstens nege mense is dood.
# En, Rugby: Die Bulle het hulle uitstekende segetoer in hulle Verenigde Rugbykampioenskapveldtog voortgesit deur Zebre met 63-24 te verslaan vir ‘n bonuspunt oorwinning gister op Loftus Versfeld. Die Bulle het nege drieë teen die Italiaanse span se drie aangeteken en het teen halftyd met 28-10 voorgeloop. Intussen het die verdedigende kampioene, Glasgow Warriors, die Leeus met 42-0 vernietig in hulle wedstryd op die Scotstounstadion. Die oorwinning beteken dat die Glasgow span na tweede plek op die punteleer skuif. Die Ierse span en kompetisievoorlopers Leinster het die Haaie op hulle tuisveld in Durban met 10-7 verslaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….