Nuus 8:00
BULLETIN 21 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident lei die nasionale herdenking van Menseregtedag in Oos-Kaap
# Ramaphosa verwerp die Kaapse Onafhanklikheidsbeweging se reis na Amerika
# En, Kganyago waarsku teen ekonomiese gevaar as Suid-Afrika sy AGOA-handelsvoordele verloor
# Adjunkpresident, Paul Mashatile, lei vandag die nasionale herdenking van Menseregtedag in die Oos-Kaap. Die vieringe begin om 9 vm by die Derrick Ferreira-stadion in Kariega met ‘n kransleggingseremonie. Menseregte herdenkingsgeleenthede word hierdie jaar met die tema “Versterking van ‘n Kultuur van Maatskaplike Geregtigheid en Menseregte” gehou. Adjunkpresident Mashatile sal deur senior regeringsbeamptes vergesel word, insluitende die Minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, Minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, en die premier van die Oos-Kaap Provinsie, Oscar Mabuyane.
# President Cyril Ramaphosa verwerp ten sterkste die Kaapse Onafhanklikheidsbeweging se beplande reis na Washington DC om die Wes-Kaap se afstigting van Suid-Afrika te bevorder. Hy het beklemtoon dat die land se grondwetlike demokrasie, wat in 1994 gestig is, eenheid en nie-rassisme handhaaf. Presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya, het by ‘n mediakonferensie ‘n oproep gedoen op alle landsburgers om te fokus op die bou van ‘n beter Suid-Afrika deur middel van dialoog en beleide wat maatskaplike samehorigheid en gelykheid bevorder, ten spyte van internasionale uitdagings:
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê dit kan die ekonomie knou as die handelsvoordele van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika verloor word. Hy waarsku dit kan uitvoere verswak, groei vertraag en druk op die rand plaas. Die uitwerking daarvan kan vererger as Amerikaanse tariewe bygevoeg word, wat sal lei tot hoër inflasie en ‘n strenger monetêre beleid. Kganyago bepleit ekonomiese hervormings en bestendige beleide om handel en finansiële bestendigheid te beskerm:
# Russiese en Amerikaanse amptenare sal Maandag in Saoedi-Arabië samesprekings voer oor Oekraïne. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het hierdie week met sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, en die Oekraïnse leier, Volodimir Zelensky, gepraat en die VSA sal in die komende dae ook samesprekings voer met Kiëf. Putin se woordvoerder, Yuri Ushakov, sê die afvaardigings moet samesprekings voer oor die Swart See waaroor Putin en Trump gepraat het.
# Sokker: Bafana Bafana, is tans tweede in hul Wêreldbeker-kwalifiserende groep met sewe punte en vanaand pak hulle Lesotho aan in ‘n deurslaggewende wedstryd op die Peter Mokaba-stadion in Polokwane. Bafana Bafana sal boaan hul groep wees as hulle vanaand wen. Sondag vertrek hulle om Dinsdag teen Benin in Abidjan te speel. Oorwinnings teen Lesotho en Benin sal Suid-Afrika nader daaraan bring om te kwalifiseer vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Mexiko, Kanada en die VSA. Afskoptyd in Polokwane is om 6-uur vanmiddag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….