Nuus 7:00
BULLETIN 3 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Brandstofpryse daal volgende week
# Joslin Smith se ouma het nog vrae ten spyte van die skuldigbevinding
# En, Netcare herbevestig sy verbintenis tot noodsorg vir lede van die Johannesburg Metropolisiedepartement
# Die Departement van Minerale en Petroleumbronne het ‘n verlaging in brandstofpryse aangekondig, wat Woensdag in werking tree. Albei grade petrol sal met 22-sent per liter daal, en diesel met tot 42-sent per liter, terwyl paraffien 31-sent goedkoper sal wees. Robert Maake van die department sê egter die prys van vloeibare petroleumgas sal met 46-sent per kilogram styg:
# Joslin Smith se ouma aan vaderskant, Rita Yon, het die skuldigbevinding deur die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Saldanhabaai verwelkom. Regter Nathan Erasmus het die sewejarige kind se ma, Kelly Smith, saam met Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn, skuldig bevind aan ontvoering en mensehandel. Die hof het beslis dat die trio Joslin gebruik het om mee handel te dryf. Yon het egter gesê sy bly diep bekommerd dat niemand weet waar Joslin is nie:
# Netcare het sy verbintenis tot kritieke noodsorg herbevestig na berigte oor die behandeling van ‘n beampte van die Johannesburgse Metropolisie. Volgens Netcare se besturende direkteur, Erich Bock, het die beampte Woensdag dadelik lewensreddende sorg by die Netcare Milpark-hospitaal ontvang en is later oorgeplaas vir verdere behandeling. Bock het volle ondersteuning vir die beampte en sy gesin bevestig. Hy sê hoewel die Johannesburgse metroraad Netcare geld skuld, bly hulle in gesprek met die Stad om die saak op te los en te verseker dat die diens gelewer word.
# Australiërs gaan vandag stem om hul volgende regering te kies, in ‘n verkiesing wat bepaal sal word deur lewenskoste, klimaatsonsekerheid en Trump-tariewe. Kiesers moet besluit tussen die linksgesinde, huidige eerste minister Anthony Albanese en sy konserwatiewe uitdager Peter Dutton. ‘n Hele paar meningspeilings dui daarop dat Albanese se regerende Arbeidersparty ‘n tweede termyn sal wen. ‘n Totaal van 18,1-miljoen kiesers het vir die verkiesing geregistreer. Australiërs word verplig om te stem en dit word afgedwing met boetes van ongeveer 238-rand, wat lei tot ‘n stempersentasie van meer as 90-persent.
# En ons sluit af met krieketnuus: Ben Stokes het die groen lig gekry om Engeland later vandeesmaand in hul eenmalige toets teen Zimbabwe aan te voer nadat hy in ’n groep van 13 spelers ingesluit is. Die 33-jarige veelsydige speler het van ‘n operasie herstel nadat hy in Desember in Nieu-Seeland ‘n dyspier beseer het. Dit was die tweede keer in vyf maande wat hy ‘n dyspier geskeur het. Stokes sal Engeland aanvoer in die openingswedstryd van hul tuisseisoen. Dit is ’n vierdag-toets in stede van vyf dae, en sal van 22 tot 25 Mei op Trent Bridge plaasvind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….