Nuus 19:00
VERKIESINGSBULLETIN 30 Mei 7 nm
Goeienaand. Ek is……..
In hierdie spesiale verkiesingsbulletin:
# Die ANC is nog ver van die nasionale 50-persent-kerf af
# Die OVK gee die derde stembrief die skuld vir die stadiger afhandeling van die uitslag
# En, die Instituut vir Rasseverhouding sê die OVK moet voor die volgende verkiesing sy huis in orde kry
# Uitslae kom steeds stadig maar seker in by die OVK se nasionale uitslagsentrum in Midrand, Gauteng. In voorlopige nasionale uitslae ‘n rukkie gelede het die ANC voorgeloop met 42,54-persent. Die DA het gevolg met 25,40-persent terwyl die EFF op 8,76-persent was. Die MK Party en die PA is onder die topvyf nasionaal, met onderskeidelik 8,38- en 3,91-persent. Die MK Party het steeds ‘n groot voorsprong in KZN met 43,12-persent gevolg deur die ANC op 20,20-persent. In die Wes-Kaap lei die DA met 51,72-persent, gevolg deur die ANC met 20,32-persent. In Gauteng het die ANC ‘n skrale voorsprong met 33,94-persent en die DA op 30,27-persent.
# Die Verkiesingskommissie skryf die stadiger afhandeling van die uitslae toe aan die byvoeging van ‘n derde stembrief, wat veral metropolitaanse gebiede raak. In die verlede is 80-persent van die uitslae in die eerste 24-uur afgehandel, maar die derde stembrief maak alles stadiger. Ondanks die vertraging, werk die OVK om seker te maak van die akkuraatheid deur volledige nagaan en ouditering. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, bly vol vertroue die uitslae sal binne die voorgeskrewe sewe-dae-tydperk afgehandel wees:
# En laastens: Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die chaos by sommige stemlokale kan veroorsaak kiesers verloor geloof in die Verkiesingskommissie, wat breër implikasies kan hê vir die veerkragtigheid van die demokrasie in Suid-Afrika oor die mediumtermyn. Die instituut vra ‘n onafhanklike ondersoek na die oorsake van wat gister by verskeie stempunte skeefgeloop het. Hy sê die kwessies moet opgelos word voor die volgende plaaslike regeringsverkiesing, geskeduleer vir 2026, om die integriteit van die OVK en die geloofwaardigheid van Suid-Afrika se demokrasie te beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….