Nuus 18:00
BULLETIN 2 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die migrasiekomitee waarsku teen misdadige groepe wat die verkiesing kan ontwrig
# Betogings deur Franse leerders hervat op ‘n kleiner skaal ná die skoolvakansie
# En, president Ramaphosa prys die Premier Sokkerliga se prestasies
# Die Interministeriële Komitee oor Migrasie en verskeie burgerlike organisasies vra kiesers om toe te sien die munisipale verkiesing verloop vreedsaam en ordelik. Dit volg ná ‘n vergadering met gemeenskapsgroepe, insluitend Hlangana Mzansi en Bhinca Nation, gelei deur die mediapersoonlikheid Ngizwe Mchunu. Misdaad, onwettige migrasie, onwettige vuurwapens en leemtes in wetstoepassing is bespreek. Die adjunk-regeringswoordvoerder, William Baloyi, sê alle stemgeregtigdes moet kan stem sonder intimidasie of inmenging:
Intussen het die Verkiesingskommissie die dood bevestig van ‘n verkiesingsbeampte op die eerste dag van die spesiale stemming in Noordwes. Die beampte het aan diens inmekaar gesak. Nog ‘n beampte is in KwaZulu-Natal beseer toe ‘n motor hom getref het en hy is in die hospitaal. Die OVK het sy medelye met die oorlede beampte se gesin betuig. Die adjunk-uitvoerende hoof, Masego Sheburi, sê hy hoop die spesiale stemproses verloop verder vlot:
# Die Absa-aankopebestuurdersindeks het vir die tweede agtereenvolgende maand verbeter en in Oktober tot op 49,6 punte gestyg, vanaf ‘n hersiene 48,7 punte in September. Die vervaardigingsektor bly egter onder druk, met sakebedrywighede en nuwe bestellings steeds onder die 50-punt-kerf. Werkskepping bly swak terwyl stygende brandstofkoste en ‘n swakker rand vervaardigers se aankoopkoste opjaag. Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek sê ondernemings is versigtig weens onsekerheid rondom die plaaslikeregeringsverkiesing, vervoerverwante uitdagings en swak verbruikersvraag.
# Franse hoërskoolleerders het protesoptrede hervat na ‘n twee weke lange vakansie, maar betogings is aansienlik kleiner as voor die skole gesluit het. Teen vanoggend was 41 skole of sowat een-persent van skole geblokkeer met nog pogings om skole to blokkeer, vergeleke met honderde voor die vakansie. Leerders eis beter skoolgeriewe, meer onderwysers, bykomende plekke by universiteite en ‘n billiker toelatingstelsel. Die regering het miljarde euros in onderwysmaatreëls aangekondig, insluitend kleiner klasse en skoolopknappings, maar studentegroepe sê die toegewings is nie voldoende nie.
# President Cyril Ramaphosa het die Premier Sokkerliga geprys vir sy bydrae tot Suid-Afrikaanse sokker en dit beskryf as die bes georganiseerde liga op die vasteland. Tydens ‘n besoek aan die PSL-hoofkantoor in Johannesburg vandag, het Ramaphosa gesê sokker is steeds die sportsoort wat met 77-persent die meeste ondersteuning in die land geniet, en dit bring vreugde aan miljoene mense. Hy het ook die PSL geloof vir sy gewilde derby, wat as handelsmerk geregistreer is. Die President het sokkerondersteuners aangemoedig om aan die komende plaaslike regeringsverkiesings deel te neem:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-871-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-947-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 110-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….